OP PAD MET DIE HEILIGE GEES
Dit was Pinkster en ons het gepraat oor die Heilige Gees. Hoe gaan ’n mens op pad met die Heilige Gees?
Ons ken die uitdrukking dat die lewe ’n reis is. Ons weet instinktief ons moet êrens heen op pad wees, anders stagneer ons. Babas bly mos nie net heeltyd lê nie, hulle wil beweeg. Moontlik is die koers wat ons inslaan dalk om genoeg kos te hê vir die kinders. Moontlik is dit om ’n veilige blyplek te hê. Soms het ons die behoefte aan roem en agting – dan bepaal dit waarheen ons op pad is.
Ons is gevorm om op pad te wees na die een of ander doel. Dis hoe ons saamgestel is. Maar nou: Jy bereik daardie doel en jy is teleurgesteld. “Is dit maar al?”, wonder jy. Jy stel ons onmiddellik die volgende doel en jaag weer daarna. Net om weer onbevredig te voel.
Die kwessie is nie om na ’n doel te streef nie. Dis goed. Dit bring vooruitgang. Die vraag wat jy eerder moet beantwoord is: Is dit ek?
Wie ek is, al die diepste verlangens en begeertes wat God in my hart en DNS gevorm het, gaan bepaal of daardie doel betekenisvol gaan wees. Anders gaan jy op pad deur die lewe net om te ontdek: Dis nie ek nie. Dis nie wie en hoe ek bedoel is om te wees nie.
Jy gaan eers gelukkig voel om ’n doel te bereik as jou doel op dieselfde golflengte as jou hart is. Jy gaan eers vreugde beleef as jou doel meer betekenis aan jou lewe gee. Die punt is: ék moet my reis wees. Die pad wat ek kies, moet ék wees!
Maar hoe gaan ek meer van my diepste begeertes naleef?
As ons hier van diepste begeertes praat, dan bedoel ek nie daarmee sondes nie. Ons praat hier van positiewe begeertes. Positiewe begeertes wat jouself en ander opbou en groei bring. Die wonderlike nuus is dat Jesus vir ons die Heilige Gees gestuur het. Die Heilige Gees is in elkeen wat hulle lewe vir Jesus gee.
Wanneer ons die Heilige Gees vra om ons te lei, dan doen die Gees dit graag. Want die Heilige Gees wil ons help om al hoe meer Jesus se lewe hier te lewe. Die Heilige Gees is in ’n sekere sin my afrigter wat my help om nog meer die lewe in oorvloed te leef.
As ek my oopstel vir die sagte influistering of aanraking van die Heilige Gees, wéét ek of ek in die regte koers is of nie. In Romeine 8:6 skryf Paulus: “Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.”
Hoe weet ek of my doel en of die keuses wat ek maak die regte is? Wanneer dit lewe en vrede bring. Hoe weet ek of ek op die regte pad is? Wanneer dit lewe en vrede bring. Die Heilige Gees help my om te besef: Hierdie keuse bring lewe en vrede. Natuurlik gaan ek soms gespanne wees om daardie pad aan te pak, want dis mos nog onbekend. Maar ek het vrede dat dit die regte ding is om te doen. Dit laat my voel ek lééf. En dit bring vir ander mense ook lewe en vrede.
In ’n laaste sin: As jy saam met Heilige Gees op pad is, is dit altyd in die rigting van lewe en vrede!
(Min of meer soos uitgesaai deur RSG Sondag 22 Mei 2016 in Sondagjoernaal)