GOD VAN NUWE MOONTLIKHEDE
Ek wonder soms watter God mense aanbid. Selfs mense wat normaalweg diep gelowig is, praat dikwels asof alles net van hulleself afhang. Hulle spreek hulle teleurstelling uit oor die slegte wat hulle ervaar en hoe donker die toekoms lyk. Die manier waarop hulle praat wys dat hulle glad nie daarmee rekening hou dat God dinge ingrypend positief kan verander nie. Selfs hulle gebede is soort van “Ag, dit help eintlik nie, maar ek noem dit maar net vir ingeval God iets kan doen.” Hulle bid nie asof hulle lewe daarvan afhang dat slegs God nou die positiewe verskil kan wees nie.
So watter God wil ons in ons lewe hê? Die god met ’n kleinletter “g” wat die projeksie is van ons innerlike onvermoë en vrese? Of DIE LEWENDE EN REGERENDE GOD WAT ALMAGTIG IS OM NUWE MOONTLIKHEDE TE SKEP?
Jou Godskeuse bepaal jou lewenskeuses.
Mense wat leef asof God nie regtig dinge kan verander nie, leef met ’n vrees-en gebreksmentaliteit. Hulle kyk wat hulle uit die situasie kan kry om te oorleef. Hulle dink die koek het net soveel skyfies en hulle baklei vir hulle skyfie. So hulle verwoes verhoudings en kanse.
Terwyl mense wat glo God kan regtig nuwe moontlikhede gee, leef met ’n gesindheid van liefde en oorvloed. Hierdie gesindheid van liefde en oorvloed nooi ander mense in om saam te droom en saam God se moontlikhede te vier. Dan ontstaan nuwe werklikhede van wonderlike verhoudings en kreatiewe oplossings. Hulle dink nie daar is net een koek nie, maar verskillende koeke om van te kies.
Soms voel ’n mens jou droom is te groot vir jou. Maar die droom bly. Dan sê mense vir jou dis onmoontlik. Kan ’n mens na God toe gaan met hierdie groot droom?
Onlangs moes ek weer lag vir myself toe ek besef dat my groot probleem eintlik vir God ’n klein dingetjie is. Ons is opgewonde om maan en Mars toe te gaan en dis vir ons ’n groot uitdaging. Maar dink hoe almagtig is Gód wat die maan en Mars geskep het.
So ons groot drome is nie vir God te groot nie. Inteendeel, as ons regtig ’n droom of visie van God ontvang, is dit gewoonlik vir óns te groot om op ons eie te doen. Lees maar in die Bybel hoe probeer die mense vir wie God roep vir ’n taak daar uitkom deur te sê hulle is te onbekwaam of te jonk. As God ’n droom of visie in jou hart lê, help God om dit waar te maak. Ek en jy moet net saam met God werk.
In Lukas 1:37 kom herinner ’n engel vir Maria: Niks is vir God onmoontlik nie. Ek meen, dis ’n herinnering so reg uit die hemel. Níks is vir God onmoontlik nie. Ons kan regtig na God gaan met alles.
Kan ’n mens ook bid dat God jou sal lei en rigting gee?
Jesus praat graag van God as sy Vader. God as Hemelse Vader kan elke situasie hanteer en nuwe moontlikhede daaruit maak. In Jesaja 35 lees ons dat God vir sy volk sê die woestyn sal vol pragtige affodille word. Dit lyk onmoontlik. Tog het God met die tyd vir mense die insig gegee hoe om die woestyn in ’n lushof te verander – as jy nou in Israel ry is daar dele wat totaal woestyn was wat nou plantasies is. Ons moet net nie ons eie prentjie van hoe ons dink dit moet uitwerk die norm maak nie. God se prentjie is groter en beter.
Jesus sê ook dat Hy net doen wat Hy by sy Vader gehoor het. So God gee leiding. Hoeveel male lees ons in Handelinge hoe Jesus se volgelinge die Heilige Gees gehoor sê het in watter rigting hulle moet gaan al dan nie.
Ek glo God het altyd deure van geleenthede vir ons oop. So ek bid dat die Here die deure sal toemaak waarby ek nié moet ingaan nie. As iets dan nie uitwerk nie, herinner ek myself dis die deur waarby ek nie moes ingaan nie.
God die Heilige Gees is heeltyd in ons, so ons moet net gereeld ’n oomblik stop, diep asemhaal en vra: Heilige Gees, hoe gaan ek hierdie ene hanteer? As die antwoord wat jy hoor uit vrees is, is dit nie van die Gees nie. As die antwoord iets sê van liefde, is dit van God.
Ons moet toelaat dat ons liefde vir God altyd groter is as ons vrese. Dan sal ons sien niks is vir God onmoontlik nie!
(Soos min of meer op RSG Sondagjoernaal 9 Oktober 2016)