Important: Covid-19 is real. For more information, see: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

VERWAG WONDERWERKE!

Kan ’n mens regtig wonderwerke verwag?

Ek glo met my hele hart ons het nog nie genoeg wonderwerke in ons lewe beleef nie!

Die manier waarop sommige mense die wetenskaplike navorsing glo, laat wonderwerke buite rekening. Na my mening is so ’n perspektief te klein. Ek hou van wetenskaplike navorsing want dit wys my hoe wonderlik God alles ontwerp het. Terselfdertyd hou ek daaraan vas dat ons ruimer oor God self en dus ruimer oor wonderwerke moet dink. Ons huidige denkfeite en fisiese waarneming sê nie alles oor God of oor die lewe nie.  As ek ruimer dink, neem ek medisyne én ek bid om genesing. En ek dank God vir albei!

Albert Einstein het blykbaar gesê: “Daar is net twee maniere om jou lewe te leef: Die een is asof niks ’n wonderwerk is nie. Die ander is asof alles ’n wonderwerk is.”

Vandat ek gekies het om te leef asof alles ’n wonderwerk is, sien ek net soveel meer wonderwerke gebeur.

Die vraag is nie eintlik of ’n mens regtig wonderwerke kan verwag nie. Die vraag is eintlik baie dieper. Dis om jouself te vra: Glo ek regtig dat Gód die situasie kan verander? Glo ek regtig dat Gód goeie bedoelings met ons het? Glo ek regtig dat Gód nog wonders kan doen?

As ek nie glo dat Gód regtig kan ingryp nie, is alles op myself en my eie vermoë aangewese – en dis so beperk! Geen wonder mense brand hulleself uit om nog harder te werk en nog meer te probeer doen nie, want hulle dink alles hang net van hulleself af. Ons as mense kan baie meer gelukkig en met lewensvreugde leef as ons besef alles hang nie net van myself af nie. Daar is ook wonderwerke wat gebeur… want die Goddelike kan ook in ons situasie gebeur…

Weet jy dat daar ’n wêreld vir ons oopgaan as ons minder óf-óf dink en meer én-denke toepas. Ons dink as jy is óf ’n wetenskaplike óf ’n gelowige. So asof die een die ander een moet uitsluit. Maar soveel wetenskaplikes wat ek ken is wonderlike gelowiges. Soveel wonderlike gelowiges geniet die wetenskap!

Ons kan aan natuurwette vashou én aan die moontlikheid van wonderwerke. Die een sluit nie noodwendig die ander uit nie. Dis reeds ’n wonderwerk hoe God die wetenskaplike ontdekkings gebruik om nood op te los en te genees. Dis ook ’n wonderwerk as jy ’n insig of visie kry waarvoor die wetenskap nog nie bestaan nie en dit dan die insig of visie volg.

Wetenskap wat ons help om die spasie vir misterie oop te maak, help ons wonderlik! Byvoorbeeld die positiewe sielkunde leer ons as ons elke dag 3 dinge opnoem waarvoor ons dankbaar is, verbeter ons kanse vir geluk en daarom verbeter die kans vir sukses. Ek glo jy gaan meer wonderwerke raaksien.

’n Wonderwerk gebeur as jou persepsie en perspektief verander en jy meer moontlikhede sien. ’n Wonderwerk gebeur wanneer jyself verander en iemand vergewe. ’n Wonderwerk gebeur waar ’n vasgeloopte verhouding nuwe lewe kry. ’n Wonderwerk is elke moment waarin jy kies om te sien dat God ook in hierdie situasie besig is omdat God jou lief het. Daarom verander jou vrees in vertroue. ’n Wonderwerk gebeur as jy besef die slegte wat nou gebeur is die oorgang na ’n beter lewe. Wonderwerke gebeur wanneer mense vanuit liefde begin leef en nie vanuit pyn of vrees nie.

Ek en jy kan nie die wonderwerk forseer nie. Maar ons kan onsself aan God oorgee en so die ruimte skep dat ’n wonder kan gebeur. Dan gebeur dinge net te toevallig om toevallig te wees. Twee of meer onverwante momente val meteens saam en die oplossing verskyn. Jy vertrou God vir ’n antwoord en meteens hoor of sien jy dit. Jy bid en beplan op ’n sekere manier en meteens is daar ’n groter antwoord.

Kan ’n mens iets van jou kant af doen om die moontlikheid van ’n wonderwerk te verhoog?

Maak eerstens ’n keuse om jouself toestemming te gee om wonderwerke te verwag en op te merk. Nie om so te bewys of God aan die werk is of nie – God is in elk geval aan die werk. Maar om jouself te bevry om iets te moet beheer of bewys.

Tweedens: Begin elke dag met die verwagting en bid: Here, ek is vandag oop vir enige wonderwerk. Maak my asseblief deel van U wonders.

Derdens: Dank God vir klein dingetjies wat wonderlik gebeur, soos as jy haastig is en meteens gaan daar ’n parkeerplek voor jou oop. Of jy tel ’n geldjie op terwyl jy in finansiële nood is. Dis alles dingetjies wat jou herinner: God het nie van jou vergeet nie.

Paulus bid in Efesiërs 3:20-21 20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe… God is magtig – verwag wonderwerke!

(Soos min of meer op RSG Sondagjoernaal 16 Oktober 2016)