Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

SIEN Só GELEENTHEDE RAAK!

Mense voel dikwels asof al hulle kanse opgebruik is en hulle nie weer ’n geleentheid gaan kry nie.

Omdat ’n mens bedreig voel deur jou situasie, gaan ons oor in die veg, vlug en vries manier van leef. Dis ’n manier om te oorleef en die enigste openinge of geleenthede waarna jy instinktief soek, is om uit jou situasie te kom. Hierdie oormaat angs en stres is nie bevorderlik om kreatief geleenthede raak te sien nie. As die geleentheid wel daar is, is jy nou al so angstig dat jy bang is om die kans te waag. Jou brein sukkel met die oormaat kortisol, die streshormoon, asook die adrenalien wat jou heeltyd aanjaag sodat jou verbeelding en denke nie kans kry nie. Jy is in oorlewingsmodus. So ons wil jou beweeg na ’n oorwinningsmodus.

Die eerste wat ’n mens moet doen, is om eenvoudig diep asem te haal. Steek jou hande in die lug soos ’n kindjie wat wil opgetel word deur ’n ouer. Sien in jou verbeelding dat jy jou hande uitsteek na God en haal net stadig en diep asem. Dit help dat jou streshormone verminder en gee jou die positiewe inspuiting van vars suurstof. Doelbewuste rustige asemhaling help fisies jou brein besef jy kan dit kalm hanteer.

Hoe gaan ons vêrder om geleenthede raak te sien?

Jannie: Die kuns om geleenthede raak te sien, het alles te make met hoe jy glo. As jy glo alles is verby, dan is dit vir jou verby. As jy glo daar is ’n skatkis van geleenthede, dan gaan jy dit begin sien. Soos jy glo, so is dit vir jou. Nog dieper: glo jy dat God kan? Jakobus 1 sê as ons wysheid kortkom, moet ons dit van God bid en God sal dit gee. Wysheid is om te glo alles begin by God. Wysheid is om oop te wees vir God sodat jy kan sien waar God reeds besig is en reeds vir jou die antwoorde wys.

Haal weer diep en rustig asem en besef dat God net so werklik is soos jou asemhaling is. Net soos jou asemhaling aan jou lewe gee, kan God lewe aan jou situasie gee. God géé geleenthede.

Gesels weer met God oor jou situasie. Maar hierdie keer met die oortuiging dat God vir jou wysheid sal gee. Een van die mooi gebeure in die Bybel waar iemand na God kom met sy situasie en bid vir ’n geleentheid, is opgeteken as die sogenaamde gebed van Jabes. Dis in 1 Kronieke 4:10: “10Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: ‘Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.’”

Dan staan hierdie wonderlike sinnetjie: “God het laat gebeur wat hy gevra het.”

Die punt is: Gód gee geleenthede. As jy terugkyk oor jou lewe, sal jy verskeie sulke kere opmerk waarin God vir jou seën as geleenthede gegee het.

Vra die vraag: Waar kan ek waarde toevoeg? As jy iemand net groet, is dit gewoon. As jy ’n opregte glimlag daarmee saam gee, het jy waarde toegevoeg. So die vraag in enige situasie is: hoe kan ek dit beter maak. Of soos die kinders sê: Hoe kan ek dit beterder maak?

Kom ek vertel ’n ware storie: In Augustus 2015 het die sesjarige Jaden Hayes wie se vader oorlede is toe hy vier is, skielik sy Ma ook verloor. Sy het in haar slaap gesterf nadat sy hom in die bed gesit het. Hy vertel dat hy haar probeer wakker maak het, maar hy kon nie. Hy is hartseer en mis sy Mamma. Na die begrafnis besef hy dat hy moeg is om oral mense rondom hom te sien wat hartseer is. Hy wil hulle net help. Hy vra toe sy tannie Barbara Dicola by wie hy bly, om vir hom speelgoedjies en snuisterye te koop. Dan gee hy dit vir die mense op straat wie lyk of hulle ’n bietjie opbeur nodig het. Die Youtube video wys hy kry nie net glimlagte nie, mense bars in trane uit van die omgee deur hierdie klein seuntjie wat net wil hê almal moet ’n bietjie meer glimlag.

Jaden het ten spyte van sy eie hartseer ’n geleentheid gesien om waarde toe te voeg, om dinge nie net beter nie, maar “beterder” vir almal te maak.

Gód gee geleenthede, maak jy net iets beterder…

(Teks soos min of meer aangebied op RSG Sondagjoernaal 21 Februarie 2016 – laaste paar minute van program)