Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

HEILIGE GEES: DOOP EN VERVULLING

Alle mense het gees (kleinletter “g”) van God ontvang, maar nie almal is vervul met die Heilige Gees nie.

Nou mag jy dalk skrik en sê jy het gedink net gelowiges ontvang gees. Nee, almal ontvang gees, maar nie almal is vervul met die Heilige Gees nie, net gelowiges IN JESUS.

Kom ons neem mekaar terug na die skeppings verhaal. Soos die Bybelse mense dit verstaan het, is gees dit wat lewe gee. Gees is die gerigtheid op God – en God is lewe. Gees is gekenmerk deur jou asem. Wanneer jy ophou asemhaal, is die gees weg. Want hierdie gees, het hulle verstaan, is die asem van God. So almal ontvang gees van God bedoelend daarmee almal kry lewegewende asem van God. Gees, dit is RUACH oftewel wind of asem in Hebreeus, ontvang mense as geskenk van God om te lewe.

Haal lekker diep asem. So diep dat jy eintlik voel hoe ontspan jy.

So die eerste punt is: laat jou asem jou herinner aan God. Elke keer as jy voel jou wêreld wil uitmekaarval, haal diep asem. Hou net aan om diep asem te haal. Gebruik jou asem as jou eerste konneksiepunt met God. Onthou dan dis God wat aan jou lewe gee.

So haal weer lekker diep asem. Voel as’t ware hoe jou asem jou hele lyf invloei.

Geen wonder die psalmdigter roep uit: laat alles wat asem het, die Here loof…

En nou die geheim:

Alle gelowiges in Jesus ontvang die doop met die Heilige Gees, maar nie almal leef vervul met die Heilige Gees nie.

Een van die moeilike goed wat met gelowiges gebeur, is dat ons nie almal dieselfde taal gebruik om oor dieselfde saak te praat nie. Dit lei tot allerlei misverstande tussen mense en dit lei ook tot verskille in die verstaan van die Bybel, want die Bybelskrywers het ook dieselfde sake met verskillende woorde beskryf.

Wanneer Johannes beskryf wat gebeur wanneer jy Jesus in jou lewe innooi, noem hy dit dat Jesus met die Heilige Gees doop. Lukas gebruik hierdie terme van Johannes as hy praat, maar dan gebruik hy dit veral om vervulling met die Heilige Gees te beskryf. Dis die belewing van die volheid van God se teenwoordigheid.

Lukas skryf Handelinge en verwys in hoofstuk 1 dat Jesus gesê het dat die dissipels van Jesus met die Heilige Gees gedoop sal word. Dit verwys na Pinkster. Wanneer die Pinkster gebeure dan plaasvind, sê dieselfde Lukas almal is vervul met die Heilige Gees en het in verskillende tale begin praat.

Vervulling kom dus in die oopstel vir die werking van die Heilige Gees (onthou hulle het aanhou bid in die bovertrek) sowel as die ervaring dat die Heilige Gees kragtig deur hulle in geestelike gawes werk. In vervulling beleef die dissipels oftewel dan gelowiges ten volle wat God kan doen deur hulle deur die Heilige Gees. Jesus wil hê ons moet hierdie vervulling oftewel volheid van die Heilige Gees beleef, want dis die ervaring van lewe in oorvloed, die oorvloed wat Jesus moontlik gemaak het deur sy dood en opstanding.

So: Haal diep asem… en vra: Heilige Gees, vul my sodat ek al meer sal wil wat U wil. Vorm my en maak my tot U eer.

Heilige Gees, ek is oop vir U. Doen slegs U wil, U wil met my. Vorm my en maak my tot U eer.

Gló dat die Gees jou nou begelei, en doen waarvan die Gees jou bewus maak. Die Heilige Gees laat altyd die lig van liefde deurbreek en skyn!