Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Heilige Verbeelding

Toe ons nog elke jaar in Desember by Jongensfontein gekamp het, het die Stranddiensspan in die oggend verbygekom en die kindertjie geroep om poppekas te kom kyk. Ek onthou hulle het iets gesing-sê soos: Poppekas, poppekas, al julle maatjies kom uit julle gaatjies…

Ons kinders het soms deur die karavaanvenster saam met ander kinders hulle eie poppekas gehou.

Die interessante van poppekas is dat die poppe naderhand vir jou werklik word. Jy word self ingetrek deel van die storie.

Hoe?

Dit gaan oor ons VERBEELDING.

Ons verbeelding is een van die wonderlikste funksies wat die Here ons gegee het om beter keuses te maak, om wonderliker werklikhede te skep, om die toekoms te antisipeer.

HAT: verbeelding = vermoë om jou iets voor te stel wat nie tas- of sigbaar is nie

Stephen Covey: imagination – the ability to create in our minds beyond our present reality (bl. 70 Seven Habits of Highly Effective People)

As verbeelding so kragtig werk met poppekas, kan jy dink watter wonderlike goed kan alles gebeur as die Heilige Gees jou VERBEELDING HEILIG?

Paulus skryf in Ef. 1:18: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder…”

Om met geestesoë te sien, is om in en deur die verbeelding te sien sodat jy God se perspektief op sake kry.

Heilige Verbeelding help ons om die konneksie met die hemelse te behou, om agter die sigbare die onsigbare te sien, om agter die aarde die hemel te sien, om agter die verlede die toekoms te sien.

Ek bid dat God jou geestesoë só verhelder…