Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

HEMELVAART

Hoe kan die hemelvaart van Jesus Christus vir ons as Christene inspireer?

Ek kry die gevoel as ons dink oor hemelvaart, is dit amper soos destyds met die maanlanding. Almal staan en kyk na die vuurpyl wat opstyg en voel opgewonde. Later sien jy prentjies van ’n lewelose en verlate landskap wat jy nie kan betree sonder ’n ruimtepak nie. En vir die meeste van ons is dit bowendien nie beskore om daar te land nie. So ons dink nie verder daaroor vir ons gewone lewe nie.

Maar Jesus se hemelvaart is geen maanlanding nie. Ons hele geskiedenis het met die hemelvaart verander! Toe Neil Armstrong 21 Julie 1969 sy linkervoet op die maan sit, het hy gesê: “That’s one small step for man, one giant leap for mankind.” 1 Petrus 3:22 sê van Jesus: “Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die engele en magte en kragte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het”.

Toe Jesus sy voet in die hemel aan die regterhand van God neersit, was dit een klein tree vir God en ’n reuse troos vir die mensdom. Hoekom? Omdat Jesus die Heerser oor alles is. Hy heers ook oor ons lewe. Hy regeer oor elke minuut en elke eeu. Hy regeer oor elke mier en muis en mens en meer.

Is Hy weg en regeer Hy vanaf ’n afstand sodat ons soos met maanreise net so hier en daar radiokontak het? Nee. God skei nie tyd en ruimte soos ons nie. Jesus is op Goddelike wyse hier en nou by ons alhoewel Hy in die hemel ook is. As hemel is waar God is en ons sê God is hier, is hemel en Jesus ook deel van ons realiteit hier. Ons kan dit nie met ons blote oog juis sien nie, maar ons kan dit met ’n ontblote hart bely en ervaar!

Die punt van hemelvaart is: Jesus is die Here! Hy leef en Hy regeer saam met God die Skepper en God die Heilige Gees. Hy is nie liggaamlik tot die aarde beperk in beweging nie, maar nou is Hy hemels onbeperk. Die heelal buig op sy vingerklap en die sterrehemel brei uit met sy armswaai. En ons as mense voel getroos as Hy ons saggies aanraak en sê: Ek is lief vir jou! Kan jy dit indink: die Koning van alles konings, die Heerser van alle heersers, regeer én raak ons aan. Wow! Daarom kan ons met hoop lewe. Daarom is daar ongekende potensiaal vir groei in liefde. En nou die wonderlike: Ek en jy is die mense deur wie Jesus as Heerser sy liefde vir alle mense wil wys.

Ons vier juis Pinkster. Kom ek noem nog goeie nuus. In Johannes 16:7 sê Jesus dit is tot ons voordeel dat Hy weggaan, want Hy stuur die Heilige Gees. Die Goeie Nuus van hemelvaart is dat ons die Gees van Jesus ontvang. God by ons is God in ons. Heeltyd en altyd!

In ’n laaste sin: Jesus het opgevaar na die hemel en regeer as ons Koning. So lig jou hand na bo en sê: Lank lewe Koning Jesus!

(Min of meer soos uitgesaai deur RSG Sondag 8 Mei 2016 in Sondagjoernaal)