Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Wat is jou “IRI”?

“P.S: And do not smoke!” So eindig die een besigheidseienaar sy storie. Hy is ’n kettingroker.

As deel van M.B.A.-klasgee onlangs, vra ek dat hierdie volwasse studente ’n brief sal skryf vir hulle kleinkinders. Hulle moet as 70-jariges in hierdie brief hulle ‘PMS’ (“personal mission statement”) beskryf. Verbaas, sê een van die bestuurders na die tyd dat hy nog nooit só oor sy lewe gedink het nie. Hy is skoon aangedaan oor wat sy lewe kan beteken. Roerend beskryf ’n damestudent hoe sy as weeskind haar boeties en sussies moes grootmaak. Dis haar missie of roeping om te bly omgee vir ander mense wat seerkry. Sy moedig haar kleinkinders aan om ook so te leef. Sy het eers haar studies opgeskort om te werk sodat haar familie ’n beter kans kan kry.

Aanvanklik was die sogenaamde visie-en missiestellings net op besighede en organisasies van toepassing. Dit moes vertel waarom die maatskappy daar is en waarheen hulle op pad is. Coca-Cola s’n is byvoorbeeld: “To refresh the world. To inspire moments of optimism and happiness. To create value and make a difference.” 

Stephen Covey het dit van toepassing gemaak op mense se persoonlike lewe as hulle ‘PMS’ (“personal mission statement”). Dis eintlik net ’n manier om te help dat jy jou lewe lei volgens jou diepste waardes, prioriteite en passies. Dis om jou doel of roeping te beskryf. Dit verander ook met die jare soos jou prioriteite skuif.

Mense probeer met verskillende akronieme dieselfde sê, soos byvoorbeeld ‘MTP’ (“Massively Transformative Purpose”). Jim Collins voeg ‘BHAGs’ (“Big Hairy Audacious Goals”) by as die aspirasies vir die toekoms.

Toe dink ek ’n bietjie dat ek nou wil praat van my ‘IRI’.

‘IRI’ is my Intensionele Roepings Impak. Intensioneel want ek kies dit voortdurend omdat ek dink dis wat God vir my bedoel het. Roeping omdat ek beleef God roep my om dit te doen. En Impak omdat Stephan Joubert my herinner dat die lewe nie soseer oor sukses as die “lang-y-goed” (waarin jy ry, waar jy bly, of wat jy kry) gaan nie. Dit gaan veeleer oor impak as ’n lewe van diens aan God en ander.

Onlangs het ek soos Gideon gemaak (Rigters 6). God het reeds aan hom verskyn en ’n wonder gedoen, maar hy wou nog sekerheid hê. In sy geval het hy ’n stukkie vlieswol uitgesit en dit was nat terwyl die res van die grond droog was. Toe vra hy weer en die volgende nag was die wol droog terwyl die grond nat van die dou was. Nou ja, ek het ook gevra en gooi ’n duvet uit. Toe beleef ek God antwoord in ’n ommesientjie met verskeie oortuigende momente.

‘n Lang storie kort (#sien onder) – ek moet nou doen waaroor my ‘IRI’ gaan, al moet ek self finansieel daarvoor instaan. Want: dis my Intensionele Roepings Impak!

Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek ’n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly…” (vers 36 ev.).

Op 70 sal ek graag vir my kleinkinders wil sê dat hulle meer na hulle hart moet luister – en vir God vra om dit te bevestig: “Ek sal weet dat U deur my…”” – En dan doen wat gedoen moet word!

Dis dalk jou beurt. Wat is jou IRI?

(#Jy kan Wilma se brief hieroor hier lees. Sy het dit geformuleer en gestuur nadat ek die vorige aand – en nou bely ek! – ietwat geïrriteerd vir haar gesê het ek gaan nie mense bel nie. Sy kan dit maar doen as sy dan wil. Toe het sy dié brief gestuur en my eers daarná daarvan vertel. Dit sal wonderlik wees as jy moontlik deel hiervan kan wees.

Om die kostes van die Madagaskar Leierskapopleiding te help dra, bied ek  ’n kursus aan, “42: Die Wonder-Werk van Vreugde!” – ligte middagete en notas ingesluit. Stuur asb. ’n e-pos na wilma@inspireguroux.com vir die inligting.)


WONDERLIK: Soms het ons nodig om hieraan herinner te word (kyk hier):

https://www.youtube.com/watch?v=ivqhMxjV7j8&list=PLNqKTn4CuEXc9ZBS4zUh_6wSOJLsnPtya