Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Reünie is ‘n fees!

Dit was ontsettend lekker! En dit was nie eens my skoolreünie nie!

Vir maande is die “Uppies WhatsApp-groep” saans deel van ons saamkuier. Wilma hou my op hoogte van die snaaksighede wat haar destydse klasmaats kwytraak. Party steek die draak met mekaar. Ander is meer ernstig. Soms kom histeries snaakse grappe verby. Party besluit hulle verlaat die groep en gaan nie die reünie bywoon nie. Die res van die groep wonder of dié wat nie ’n goeie rede gee nie, nou te grênd vir almal is. Die antisipasie en opwinding bou stadig maar seker op. Dis een ding om iemand se stories op WhatsApp te lees, maar dit gaan wonderliker wees om mekaar in die oë te kyk.

Toe begin die groot pret reeds op die buitedek van die hotel waar ons kuier in Upington. Mense kyk na mekaar, maar herken mekaar nie. Totdat een die kans waag om te vra: “Is jy dalk hier vir die 40ste reünie?” Dan die heerlike ontdekking dat hulle wel van mekaar weet. Ek hoor iemand se naam al vooraf soos hy groet en toe hy by my kom, is ek baie familiêr en noem sy naam met “Sjoe, jy lyk nog altyd dieselfde!”. Ons kuiermaat se vrou wat ook nie deel van die klasgroep is nie, speel saam. Ons sien hoe kry sy oë ’n dowwe uitdrukking soos sy brein in hoogste versnelling gaan om ons te onthou. Dan verlos ons hom laggend en sê dat ons eintlik net aanhangsels is.

Na die aanvanklike herkenningsparade gesels almal eienaardig nie baie oor suksesse nie. Die eerste reünies gaan mos om te kyk wié jy kry en wát jy ry en wáár jy bly. Hierdie ene is een van waardering van lewe! Party is skraler as ooit. Ander is die rede hoekom Spanx ontwikkel is. Maar dit maak nie saak nie. Hulle vier die lewe. Daar word ook seerstories gedeel en meer empaties as ooit na mekaar geluister. Almal het al so ’n bietjie die rowwe kant van die lewe aan hulle eie lyf ervaar. Foto’s van kinders en kleinkinders word gewys. Die onthou-jy-nog-stories bind almal saam met die gedeelde identiteit as die klas van 1977.

Wat sal ’n reünie wees sonder die saalbyeenkoms! Mens moet mos darem die skoolgaande klomp wys jy is al “iemand” al het hulle nie die vaagste benul wie jy is nie. Maar hulle weet jy is belangrik want jy is deel van DIÉ REüNIE! Ons kry sitplek voor en nog meer klasmaats ontdek mekaar. Daar is ook ander jaargroepe wat reünie hou.

Prof. Stef, een van die nog ouer jaargroepe, kom met ’n hoedjie op na die verhoog. Sy kleinkind het gesê hy lyk oulik daarmee en met hierdie gepaste verweer teen die newe-effekte van kankerbehandeling inspireer hy jonk en ouer. “Moenie bang wees nie… met God. Moenie bang wees vir die 4de eksponensiële revolusie nie; leef met visie; leef met die potensiaal wat in jou is. Gaan breek die toekoms oop – met emosionele intelligensie – om ’n verskil te maak!” Ek kyk om my na die reünie-groepe en voel bevoorreg om te sit saam met mense wat reeds ’n verskil gemaak het. Ek kyk na die veel jonger skoliere en onthou hoe ek gewonder het wat om van die toekoms te maak. Nog ander toesprake volg. Toe is dit die aandfunksie en die volgende dag: DIE INTERJOL.

Dit lyk my tradisie word gebou in gesonde kompetisie. Wat snoer ’n mens beter saam as om ’n gemeenskaplike vyand te hê. Die Interjol met die ander skool is net die ding. Ons sit onder ’n groot tent en moedig die mense voor ons aan om asseblief weg te staan van die kantlyn sodat ons kan sien wat op die veld gebeur. Voor ek my kom kry, skree ek ook vir die Uppies – ingetrou in hierdie ryke tradisie. Net ’n probleem met die “kyk weer” – ons is by die huis bederf om op televisie weer te kyk na die beweging. Hier moet jou aandag bybly want jy kan nie die beweging weer sien nie. Ons gesels ook so dat ons die meeste bewegings mis. Wel kan jy uit die kommentaar na die tyd jou eie afleidings maak. (Hier is ’n videogrepie van langs die rugbyveld).

Ons geskree werk – die Uppies wen!

Nou word daar opgewerk na die aand se dinee in Mafia-styl. Party lyk asof hulle uit die fliek “The Sting” kom. Ons het maar gewoon net swart aangetrek. Ek herken iemand glad nie, want hy het gegaan met ’n John Lennon-styl, brilletjie en lang hare kompleet. Alex, die dokter van die klas doen die aankondigings en almal lag vir sy aansteeklike laggie. Op ’n gepaste oomblik lees Linda die 10 name van diegene wat al gesterf het – die laaste ene kon sy nie sonder snik doen nie. Koos kry sy kans. Hy het in elke woestyn die skoollied gesing en hom voorgeneem hy gaan dit eendag weer in sy eie skool doen. Op sy eie. Op skool kon hy die lied nooit ordentlik sing nie, want hy kon nie byhou by sy maters se note nie. Andries doen die dankies, veral vir Marieta, Joey en Alex vir al die wonderlike reëlings. Onder groot gejuig kry elkeen ‘n soen van die klasmaats wat elkeen se geskenkie oorhandig. Ek besef ‘n mens is amper bang om name uit te sonder, want elkeen se teenwoordigheid was reeds ‘n groot bydrae van die naweek.

Daar’s ‘n dansvloer in die middel en die musiek roep ons op. So ’n paar danspassies verder besef ek dat 40 jaar nogal ’n mens se spiere uit oefening laat as jy nie gereeld dans nie.

Hulle het gevra ek moet Sondagoggend ’n kort boodskappie hou. In die een saal by die casino-hotel. Die Engelsman het nogal gelag oor sy ouma wat in die begraafplaas net langsaan lê. Hy dink sy is baie gelukkig om so naby die casino te wees, want sy het die laaste paar jaar van haar lewe gereeld met ’n paar rand daar gespeel. Ek deel ’n paar gedagtes oor Jesus se wonderwerk met die vyf brode en twee vissies (jy kan die volledige preek kyk op die videogreep of hier my notas lees). Ek besef nou – anders as by ’n casino waar net hier en daar iemand wen en almal meesal verloor, het almal hier by die reünie gewen.

Hierdie wonderwerk van Jesus bly nog steeds vir my ’n fantastiese herinnering: “Niks is vir God onmoontlik nie” (Lukas 1:37)Ook ’n matriekgroep van 1977 het Hy vermeerder deur families en ervarings sodat almal uit die oorvloed van Sy genade mekaar as geskenke kan beleef. Twaalf mandjies vol geheue-kos gaan saam huis toe ook.

“What a gift!” dink ek toe ons terugry via die lang pad verby Brandvlei. Wilma was nog besig om WhatsApp boodskappe te antwoord toe die sein opraak. In stilte ry ons – sy is nostalgies hartseer sowel as dankbaar. Ek ook. In Brandvlei by die Windpomp restaurant tel sy weer die boodskappe op.

Ons ry verder. Die lewe gaan aan. Maar baie meer verryk deur hierdie saamwees.

Dís die lewe!

(Miskien help dit jou om ook een van die dae julle reünie van ‘n skool of selfs net die weersien van ‘n goeie vriend by te woon – of sommer iemand anders s’n ook!)


Wonderlik: So van reünies gepraat – ‘n professor nooi sy studente vir koffie. Hier kan jy meer sien wat gebeur….