Kurktrekker denke!
Tydens ‘n onlangse gesprek met Johan van Lill (RSG – Ons en die Onderwys), het ek verwys na Kurktrekker denke as ‘n manier van dink wat ons in uidagende tye moet toepas.
Destyds, tydens die Tweede Wêreldoorlog, het Winston Churchill verklaar hulle het meer mense nodig met kurktrekker denke. Corkscrew thinkers.
Daarmee is bedoel dat ons nie op die gewone manier van a na b na c, m.a.w. liniêr moet probeer dink nie. Ons moet op ‘n kreatiewe manier kyk na probleme en met innoverende oplossings vorendag kom.
Dink aan daardie tipe kurktrekker wat lyk soos ‘n mannetjie of vroutjie met die arms langs die kant. Die kop is die vraag: WAT WIL ONS WERKLIK BEREIK?
En die een arm sal een opsie hê en die ander een ‘n ander opsie om uit te kom by wat ons wil bereik. Gewoonlik is hierdie opsies teenoor mekaar. Gewoonlik is ‘n mens dan geneig om óf die een, óf die ander opsie te kies. Ons het gesê dat ons juis nie hier ‘n óf-óf moet stel tussen opsies nie, maar eerder moet kyk na én-én. Dit beteken dat oënskynlik teenoorgesteldes wanneer dit saamgevoeg word, ‘n nuwe en innoverende opsie kan bring.
‘n Voorbeeld van én-én opsies is dat ons in plaas van óf brandstof óf batterykrag motors gebruik, ons ook ‘n hibriede vorm van motor kry wat beide of selfs nog meer vorms van kragopwekking kan gebruik.
Ons weet in die onderwys was een van die uitdagings aan die begin van 2022 nog: Hoe gee ons onderrig sonder dat ons noodwendig die leerder in ‘n fisiese ruimte saam met ons het. Toe gaan dit oor in onderwys via die internet, WhatsApps, video’s en so meer. En nog later word dit toe ook én-én, waar ‘n klas verdeel is. Sekere leerders het binne die gesondheidsbeperkinge gestel die klas fisies kom bywoon, en die ander werk op ‘n ander manier elektronies in die hande kry. Dan ruil die leerders om sodat ander weer in die fisiese ruimte van ‘n klas kan wees.
Wat met die inperkings tydens die Covid-19 pandemie gebeur het, is dat wat ons vermoed het baie ver in die toekoms sou gebeur, versnel het sodat dit bykans oornag begin gebeur het. Ons het almal geweet die onderrig en opvoeding via die internet en sosiale media gaan al hoe meer kán gebeur, maar meteens móés dit gebeur.
Vergun my om vir elke opvoeder geluk te wens met die aanvaar van die uitdaging om ondanks die beperkings wat jy moes hanteer, steeds jou beste te lewer. Ook dat jy ten spyte van jou eie onsekerhede en stres ingeklim en die beste vir jou leerders probeer het.
Ek weet baie skole het eenvoudig nie die finansies gehad om al die sogenaamde state-of-the-art opsies vir hulle leerders te gee nie, en tog het die onderwysers hulle bes gedoen. Ons weet baie kinders is as gevolg van die onderbrekings heelwat agter waar hulle sou moes wees, maar ons is ‘n land van moed en durf en ek glo ons kan nog beter!
Die kuns in opvoeding gaan wees, na my mening, om die leerders en skole wat nie die finansies het vir al die ondersteunende tegnologie nie, te help om dit in die hande te kry en hulle te leer hoe om dit ook te gebruik. Dit sal nog vinniger moet gebeur anders val ons weer terug in ons ou gedrags-en denkpatrone wat ons leerders glad nie gaan help vir die vereistes van die toekoms nie. Tweedens sal leerders wat onbetrokke geraak het, gehelp moet word om meer betrokke te raak, in plaas daarvan om skool te verlaat.
Covid-19 het ons almal gehelp om minder óf-óf te dink, en meer én-én, ons moenie hierdie voordeel verloor nie. Dis kurktrekker denke op sy beste. Dis innoverende denke.
So na aanleiding van kurktrekker denke beantwoord vir jouself die vraag: Wanneer vanjaar het ek as opvoeder gekies vir die én-én opsies en iets kreatiefs (al is dit hoe klein) en vernuwend gedoen? Wat het ek daaruit geleer? Hoe kan ek dit wat gewerk het, nog meer verbeter?