Laat los – én hou vas!
Ek wou die opskrif eers maak: “Regtig tevrede met jou lewe?”
Is jy ook een van die mense wat kort-kort rusteloos raak en dink dit gaan vir jou meer geluk gee as jy ’n ander avontuur aanpak? Soos ek?
Dit lyk vir my die kuns is om steeds tevrede te wees ongeag of jy aan die beweeg is, óf in ’n fase is waar jy eers moet bly waar jy is. Dis die Engelse “contentment”. Om innerlike vrede en waardering vir die lewe te hê.
So laat ek maar vra: Hoe tevrede voel jy met die lewe oor die algemeen? Hierdie ‘SWLS’-skaal ** behoort jou net ’n minuut te neem om jou lewenstevredenheid mee te peil:
Kyk na die volgende vyf stellings en dui aan in watter mate jy saamstem, of dalk glad nie. Probeer by elkeen so eerlik as moontlik wees. Werk met die volgende indeks:
7 – Stem heeltemal saam
6 – Stem saam
5 – Stem effens saam
4 – Nie daarmee eens of daarmee oneens nie
3 – Verskil effens
2 – Stem nie saam nie
1 – Stem heeltemal nie saam nie
Nou vir die stellings:
My lewe is in die meeste opsigte ideaal …..
Die lewensomstandighede is uitstekend …..
Ek is tevrede met my lewe alles in ag genome …..
Tot dusver het ek die belangrike goed gekry wat ek van die lewe verwag het …..
As ek my lewe oor kan leef, sal ek omtrent niks verander nie …..
Die indeks is onderaan. Voor jy daar kyk, hoe voel jy nou?
Die woorde van Hebreërs 13:5 help my om te verstaan dat tevredenheid op ’n dieper vlak lê, naamlik in die vertroue dat God by ons is: “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie'”. ’n Mens sou in die plek van geldgierigheid enige ander gierigheid of begeerte ook kon invul.
Of ek streef na iets anders, en of moet ek eers in my bepaalde situasie bly – daar is altyd die Teenwoordigheid van God by my. As ek doelbewus fokus op God, is dit nie meer ’n móét dat ek beweeg óf bly nie. Ek het nie nodig om te móét gaan, of te móét bly, om ’n gelukkige lewe te hê nie. Ek kan die “móét” laat los, én vashou aan God.
Eienaardig, hoe meer ek vir God ‘dankie sê’ vir wat reeds reg verloop, hoe gelukkiger voel ek. Veral as ek onthou dat in Jesus alles rééds vir my reg is. My dankbaarheid is die heilige oomblik waarin ek vir God naby my voel. Dan voel ek ook sommer meer tevrede met my lewe.
INDEKS VIR SWLS-SKAAL
31-35 Uiters tevrede
26-30 Tevrede
21-25 Effens tevrede
20 Neutraal
15-19 Effens ontevrede
10-14 Ontevrede
5-9 Uiters ontevrede
** Satisfaction with life scale. Erkenning aan die opstellers en navorsers: Ed Diener, Robert A. Emmons, Randy J. Larsen en Sharon Griffin
Wonderwerk: Kyk hier hoe ‘n mens deel kan wees van God se wonderwerke.
https://www.youtube.com/watch?v=2isQjBNiC7c