Important: Covid-19 is real. For more information, see: https://sacoronavirus.co.za/
Somerset West, South Africa

Positiewe effek van Perspektief

Op ’n manier is dit fassinerend om visse dop te hou. In ons voortuin het ons ’n visdam. Ons het begin met 8, toe verdwyn van hulle en het ons net 6. Mettertyd het hulle getalle weer aangeteel tot 9.

Vir die visse is die dam en dit wat hulle vanuit die water kan sien, hulle hele “perspektief”. Ongelukkig sluit ons as mense onsself ook so dikwels op in ’n beperkte perspektief en stres dan oor die toekoms.

’n Vinnige soektog op Google se woordeboeke ontsluit perspektief mooi: A particular attitude towards or way of regarding something; A point of view.

Drie mense besoek daardie diep Grand Canyon – ’n kunstenaar, ’n predikant en ’n cowboy.

Hulle bekyk daardie diep natuurwonder.

Die kunstenaar sê: “Kyk watter mooi toneel om te skilder!”

Die predikant sê: “Wat ’n wonderlike toneel van wat God kan doen!”

Die cowboy sê: “Wat ’n aaklige terrein om ’n koei te soek!”

(vgl. http://www.christian-jokes.net/Jokes/Christian-Jokes/94-An-artist,-a-pastor-and-a-cowboy.aspx)

Perspektief is die kuns om dit wat ek beleef ’n ander betekenis te gee. Perspektief is om ons slegte situasie in ’n nuwe raam te sit wat help om ons situasie positief te verstaan. Perspektief kan jou help om ’n tragedie nie net as rampspoed te sien nie, maar ook as nuwe geleentheid.

Edith Eva Eger, wat die strafkampe van Auschwitz oorleef het, vertel dat sy twee soldate op dieselfde dag besoek het by ‘n mediese sentrum. Beide het hulle bene in ’n oorlogsituasie verloor. Beide het dieselfde diagnose en dieselfde prognose. Die een soldaat, Tom, het op sy bed gelê in ’n fetale posisie. Hy het die lewe gehaat en is in opstand teen sy lot. Die ander ene, Chuck, was uit sy bed en in die rolstoel. Hy vertel hy het ’n tweede kans gekry. Soos hy deur die tuin gestoot word in sy rolstoel, het hy besef hy is nader aan die blomme en kan ook reguit in kinders se oë kyk (vgl. The Book of Joy. Dalai Lama, Desmond Tutu, Douglas Abrams. p. 196). Laasgenoemde het beslis meer lewensvreugde!

Dis perspektief wat gehelp het dat Victor Frankl, die bekende psigoterapeut en iemand wat Auschwitz oorleef het, besef dat alles van ons weggeneem kan word, maar nie ons vryheid om jou houding in elke omstandigheid te kies nie. Elke dag, elke minuut, gee vir ons die geleentheid om ’n keuse te maak:  óf jy kies om onder te gaan en laat toe dat die ellende jou siel doodmaak, óf jy kies om nuwe betekenis en ’n beter doel aan jou omstandighede te gee.

Dis met hierdie perspektief van ’n groter doel en betekenis waarmee Paulus en Silas geleef het. Nadat hulle lyfstraf gekry het, lees ons: “Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing.” Daarna het ’n aardbewing hulle saam met die ander gevangenes vrygemaak… (Handelinge 16:25 e.v.)

Die vinnigste manier om ’n beter perspektief te kry, is om dinge in ’n positiewe en opbouende raam te sit. Soms moet jy net vra:

Wat is die goeie wat hieruit kan gebeur? Hoe kan ek God hierdeur vereer?

Mag jou tronkdeure ook oopswaai!

(Luister na hoe ek met Lizelle de Bruin 20 Augustus 2017 op RSG Sondagjoernaal oor perspektief gesels.)

(In ‘n vorige Inspirasie nuusbrief is genoem dat ek leierskapopleiding in Madagaskar onder die armes gaan aanbied. Jy kan Wilma se agtergrond brief hieroor hier lees. Intussen is ek weer terug. Ek sluit die preek in wat ek tuis gelewer het met die terugvoering. As jy op die skakels binne die preek ingaan, sal jy die foto’s sien asook ‘n kort rit saamry… Baie baie dankie vir elkeen wat bygedra het om die kostes van hierdie hele projek te help delg – daar kom nog steeds in. Wilma het sover sy die inbetalers se details kon kry, per e-pos gereageer. Indien jy egter nie ‘n persoonlike bedanking ontvang het nie, wil ons hiermee net vir jou sê: BAIE DANKIE! ‘n Groot deel van die uitgawes is deur jou bydrae gedelg. Ons dank Jesus vir al die seën. Die kursus oor lewensgeluk wat geadverteer is om die kostes te help dek, gaan binnekort aangebied word. Die inligting volg eersdaags.)


Verwonder: Kyk hier hoe ‘n nuwe perspektief jou help om jou “stem” te vind.

Die 12-jarige buikspreker, Darci Lynne Farmer, was so skaam en teruggetrokke en vind dit moeilik om met mense te gesels.  Sy het by haar kerk gesien iemand doen buikspraak en besef sy wil dit ook doen. Sy het gedink die pop sal haar help met konneksie met mense. Haar ouers gee toe op haar 10de verjaarsdag vir haar ’n buikspraakpop.