Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Soek die MOOIE!

“Nee, staan meer links,” beduie ek vir Wilma.

Sy beweeg meer links.

“Anders gaan ek ook die lugversorger in die foto hê,” verduidelik ek terwyl ek die foto neem. Dis darem lekker om deesdae ’n selfoon te gebruik om die oomblik se ervaring af te neem.

Ons is in Kroasië. Ons het teen die bult trappe-op gedwaal tussen die mooi antieke geboue deur. Soos so dikwels gebeur, word die ou geboue steeds gebruik, maar moderne hulp soos elektriese kabels en lugversorgers word sommer net teen die mure vasgesit. Vir hulle is dit hulle alledaagse leefwêreld. Vir ons is dit plekke van verwondering waarin stories bly.

“Weet jy, ek besef nou dat die foto’s wat ons op Facebook sit, net dié is wat ons dink die mooie uitbeeld!” Toe neem ek sommer ’n paar foto’s wat ook die goed wys wat ek normaalweg nie in die sprokiesmooi tonele wil hê nie.

Dis lekker om ’n foto te redigeer totdat dit uitbeeld wat ek wil sien of wil hê ander moet sien. Paulus het nogal ook so oor ons geloofslewe gepraat: “ … alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” (Filippense 4:8).

Die lens van geloof, hoop en liefde fokus op wat reg is, sodat ons kan regmaak wat nie reg is nie!

Ek het gedink aan 3 P’s om ons hiermee te help. Passie. Potensiaal. Posisie.

  • PASSIE – Wat is die mooie in hierdie situasie waaroor God my passievol laat voel?

Philip Yancey het gesê: “At the heart of the gospel is a God who deliberately surrenders to the wild, irresistible power of love.”

Passie is dit waaroor jy opgewonde voel, so vol liefde daarvoor voel. Interessant: die betekenis wat aan passie gegee word in die woordeboeke het te make met “strong and barely controllable emotion; the suffering and death of Jesus”. Dis vir my mooi dat die lyding en dood van Jesus as passie, ook die passie in ons wakker maak van die diepste emosies vir iets.

Soek die passie. Soek die energie. Anders gestel, soek die Mooie waaroor jy opgewonde voel en ervaar iets van die passievolle teenwoordigheid van God. Laat dit wat onbillik en verkeerd is in die samelewing jou aanspoor om oplossings te soek.

  • POTENSIAAL – Wat is die potensiaal waarmee God die mooie deur my kan ontsluit in hierdie situasie?

Ons het onlangs ’n kleinseun bygekry. Nou slaap die mannetjie baie onderbroke en hy huil van krampe. Beteken dit dat ons kinders hom nou in die vullisblik gaan gooi? Natuurlik nie. (Van min slaap en nageboorte depressie mag ’n mens dalk voel om dit te wil doen, maar dan moet jy dadelik hulp soek!) Omdat hulle lief vir hulle kindjie is, druk hulle deur. Want ons as ouers beleef die potensiaal wat kan gebeur. Ons kan nie ophou dink aan die moontlike mooie nie.

Pous John XXIII het gesê: “Consult not your fears but you hopes and dreams. Think not about your frustrations, but about your unfulfilled potential. Concern yourself not with what you tried and failed in, but with what it is still possible for you to do.”

  • POSISIE – Watter posisieskuif moet ek maak om die mooie van God weer raak te sien?

Ons het foto’s geneem van die mooie, maar dan moes ons van posisie verander om die mooie vas te vang. Dis so lekker om nou weer na die foto’s te kyk, want ons weet hoe die omgewing daar rondom lyk.

“The world is full of magic things, patiently waiting for our senses to grow sharper”, aldus W. B. Yeats.

Om nader aan God te wees en die mooie te beleef, moet jy jou posisie verander en nader beweeg.

Soms moet jy op jou knieë gaan om iets van die nabyheid van die mooie te beleef.

Ons het 31 557 600 sekondes gehad vanaf verlede jaar hierdie tyd om die mooie van God rondom ons raak te sien.

Die goeie nuus is: God gee my vandag 86400 sekondes om die Mooie te soek en raak te sien. En môre weer…!

So preek ek vir myself: Soek die Mooie!


Verwonder: Dewitt Jones sê ons moet hiervoor kyk