Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

MOMENTUM skep MOONTLIKHEID!

Ons het na verlede jaar moes leer dat die lewe eintlik nie waarborge gee nie.

Jou beste beplanning kan in ‘n oogwink gehalt word. Die lugverkeer van die wêreld kan in ‘n oogwink tot stilstand kom. Gemeenskappe kan oornag ingehok word en vryheid van beweging ingeperk word. Met goeie rede, want dis alles pogings om die ontwrigting te bestuur.

Maar die ontwrigting van een soort kan so maklik deur die maatreëls wat bedoel is om jou te beskerm, groter ontwrigting veroorsaak. Dit kan jou oorweldig en ontmagtig laat voel.

Tog is daar mense en maatskappye, besighede en bedieninge, wat slaag daarin om van niks na iets, en van gemiddeld na bo-gemiddeld te groei.

Wat sou die geheim wees?

Ek het iets weer onthou toe ek vroeër vanjaar ‘n kursus vir besighede aangebied het (Tema: Sh!ft Happens!). Natuurlik is daar heelwat faktore, maar volgens die navorsing destyds deur Jim Collins en sy span (vgl. Good to Great – meer as 2.5 m. kopieë verkoop!) speel fanatiese dissipline ‘n uiters belangrike rol.

In Oktober 1911 het twee spanne meegeding om die eerste mense te wees wat die Suidpool bereik.

Die twee spanne se mense was basies ewe goed.

Maar deel van die wenresep van die een span was die geheim van fanatiese dissipline om momentum te behou. Dis om elke dag ongeveer 20 myl te loop (“20 mile march” soos Jim dit noem),  oftewel ongeveer 32 kilometer.

Verbeel jou jy is in Kaapstad, op pad om die 4828 kilometer staptog aan te pak. Of in Jim-hulle se eenhede: 3000 myl. Dis nou heen en terug. Ek het vinnig gegoogle en dit lyk vir my ons kan  by benadering vanaf Kaapstad anderkant Oshakati in Namibië draai. Om by Oshakati uit te kom, beteken jy loop deur die Noordkaap met droë toestande en deur Namibië met woestynkondisies (in die spanne se geval was dit sneeu en sneeustorms).

Die eerste dag stap jy jou 32 kilometer wat ongeveer halfpad na Philadelphia is. Die volgende aand is jy in Philadelphia. En so hou jy aan. Dit raak al hoe warmer en die son skyn al hoe feller. Jy wil rus in die koelte van jou tent, maar jy doen nie. Jy stap jou 32 kilometer. Elke dag. Ook op die koeler dae. Ook as die wind in jou rug waai. Net ongeveer 32 kilometer. Dag vir dag. Al wil die hitte jou verswelg. Heen en terug.

Die maatskappye en mense wat hierdie tipe gedissiplineerde momentum behou, het ‘n groter waarskynlikheid om suksesvol te wees. Hulle floreer omdat hulle in tye van chaos en onstabiliteit steeds hierdie vaste punt het: ons doen vandag ons 32 kilometer in die rigting van ons missie. Dit gee en oefen selfbeheer in ‘n wêreld wat buite beheer voel.

Die uiteinde van die spanne in die sneeu?

Die een span (Roald Amundsen s’n) het geslaag. Die ander span (Robert Scott s’n) het die Suidpool 34 dae later bereik en moes in die naderende winter terugkeer. Scott se span het in hul tente geskuil wanneer dit slegte weer was, en op goeie dae probeer inhaal deur langer ente te doen tot hulle uitgeput moes rus. Amundsen se span het konstant momentum behou. In mooi weer het hulle nie verder as hulle “20 mile” gegaan nie, want dan was hulle blootgestel aan te veel uitputting. Op dae met slegte weer het hulle steeds voortgebeur om hulle pas en doelwit te handhaaf. Amundsen-hulle het veilig teruggekeer. Scott en die 4 ander lede van sy span het almal ongelukkig gesterf.

Daniël, van leeukuil-faam, het ook sy “32 kilometer” elke dag gedoen.

Daniël 6:11: “Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en hom te prys, te aanbid en te dank.” Hy het dit bly doen ten spyte van die onsekere chaos wat om hom losgebars het en die verpligting om ‘n vreemde afgod te aanbid. God het hom nogal besonder geseën met sukses (vgl. Daniël 6:29: “Dit het goed gegaan met Daniël gedurende die regering van Darius en die regering van Kores die Pers.”)

Wat móét ek doen om my doelwit vir die volgende termyn te bereik? Ek móét elke dag my simboliese “32 kilometer” doen! Of ek lus het of nie. Of ek energie het of nie. Dit het in die verlede vir my gewerk. Ek glo dit gaan weer!

Dalk help dit jou ook met momentum.

Momentum skep Moontlikheid!

Kies jou “32 kilometer” doel. Die-ek-móét-dit-doen-ding. Dóén dit. Élke dag!


VideoKort, maar kragtig.


TOERNUUS: Covid kuur? Een van my vriende was met Israel in verbinding en hulle is opgewonde omdat ‘n inasem-medisyne Covid kan genees volgens die eerste terugvoer. Google iets soos “Covid inhaled medication” of lees hier.

Dit gee nuwe hoop vir ons toere!!!

2 Opwindende avonture:

Iets wat ons nog altyd in tye van krisis gehelp het, is om vir ‘n hoopvolle toekoms te beplan!

Goeie nuus vir PELGRIMS: As jy belangstel om saam te toer na Israel-Istanbul, laat weet Wilma hier – noem die toer waarin jy belangstel, asb. Israel is vir ons dié plek waar ons in Jesus se voetspore gaan loop!

Nou vir nog goeie nuus:

Ons toere na Oberammergau Passiespele 2020 was al vroeg volbespreek. Nou is dit uitgestel na 2022 a.g.v. Covid-19. Toe doen ons navraag of ons nog ‘n toer kan aanbied. ONS BIED EINDE MEI 2022 nog ‘n OBERAMMERGAU PASSIESPELE TOER aan! Ons wag vir die toerprogram wat Oberammergau Passiespele, Venesië en die Mere-distrik van Italië sal insluit.  Kontak Wilma hier en noem dat jy in die Passiespele belangstel.


*Inteken: Indien jy nog nie ingeteken is nie en graag hierdie INSPIRASIE-nuusbrief wil ontvang, teken hier in. Dit sal goed wees as jy die e-posadres jannie@inspireguroux.com onder jou Contacts sal save, want dan verseker jy dat die nuusbrief nie in die “Junk Email” verdwyn nie.


**Share/Nooi: As hierdie Inspirasie nuusbrief vir jou iets beteken, nooi gerus iemand om in te skryf! Jy mag dit Share. Forward dit en Cc wilma@inspireguroux.com daarin, dan sit ons hulle by ons poslys.


***Blits-Inspirasie! kort video’s

Van Maandae tot Vrydae gesels Jannie per kort VIDEO oor ‘n inspirasie gedagte en teks. Dis ongeveer 1½ minuut lank. Jy kan dit op drie maniere gereeld sien: (1) Deur onsFacebook blad te “like” en “follow“. (2) Deur ons YouTube kanaal te “subscribe” (3) Stuur vir Wilma jou naam en selfoon nommer sodat ons dit op die WhatsApp groep kan plaas – om elke aand direk op jou selfoon te ontvang. Onthou om as jy die video’tjie ontvang, haar selnommer onder jou kontaklys te “save” sodat jy gereeld die video’s kan ontvang. En jy mag dit verder aanstuur sodat ons met God se Goeie Nuus meer mense kan inspireer!


****Sondag-Inspirasie! Preek

Elke Sondag word ‘n boodskap beskikbaar gestel as inspirasie vir die week. Volg dit deur die Facebook blad te volg. En/of Subscribe hier op ons Inspire GuROUX YouTube kanaal om dit dan of enige ander dag te kyk en op hoogte te bly wanneer dit verskyn. Jy kan ook vir Wilma hier jou selnommer stuur en noem dis vir die Sondag-Inspirasie, dan ontvang jy die skakel per WhatsApp. Dis ook gratis en ons hoop om meer mense te inspireer om te floreer!