Wanneer HOOP weer NUUT word!
Mense wonder hoe die lewe sal voortgaan na Covid-19? Dis ook baie onseker. Maar ons het darem ook die sekerheid dat ons jaartalle nie afgetel word in voor-Covid-19 en na-Covid-19 nie. Die “C” is nie vir Covid nie, dis nog steeds v.C. as voor-Christus en n.C. as na-Christus!
Veral vir ons as gelowiges is dit verblydend dat ons nog steeds na ons jaartalle kan kyk as voor-Christus en na-Christus, sodat dit ons ook herinner dat ‘n virus nie die finale sê oor ons jaartalle het nie. Christus is nog steeds die Een wie ons jaartalle positief beïnvloed.
Normaalweg wanneer ons die woord “hoop” in ons gesprekke gebruik, is dit amper ‘n soort onsekerheid. Ons sal byvoorbeeld sê: “Ek hoop dat ek meer geld sal verdien.” Dit beteken diep in ons is ons nie regtig seker nie, dis ‘n wens. Of ons sal sê dat ons hoop iemand raak gesond. Ons is nie regtig so seker nie, maar ons wil graag hê dat iets goeds moet gebeur.
Dit lyk vir my dat die pandemie tegelyk die beste in mense, asook die slegste in mense uitgelig het.
Oor die beste wat na vore gekom het, is ons baie opgewonde. Om net ‘n paar te noem: daar is samewerking wat wêreldwyd oor lande en regerings heen strek om saam die stryd teen hierdie virus aan te pak. Nog iets: daar is mense wat hulle lewens op die spel geplaas het om die frontliniewerkers te wees. Daar is mense wat finansieel en met voedsel en op ander maniere bogemiddeld bygedra het.
Dit versterk natuurlik HOOP waaraan ons kan vashou en glo dat mense tog kan verander en vir mekaar omgee, veral in krisistye.
Oor die slegte moet ek myself inhou om nie kwaad te raak nie, want dis afgryslik dat mense mekaar so kan benadeel en die goeie pogings van ander aftakel. Deel hiervan is natuurlik gedryf deur ‘n basiese instink om oorlewing. Daar is egter ook ‘n boosheid by sommige mense wat hierdie geleenthede misbruik het vir selfverryking of gewoon brutale misdaad!
Dit intensiveer die feit dat ons nie hoop moet verloor nie, want dan kan ons ook raak soos laasgenoemdes wat selfsugtig en vreesagtig en selfs boosaardig net na onsself wil omsien.
Ons moenie dink dit was anders in Jesus se tyd nie. Toe Jesus gebore is, is een van die eerste goed wat Koning Herodes doen om sy eie posisie te beveilig teen die moontlike nuwe koning, om alle seuntjies van 2 jaar en jonger in Bethlehem en die hele omgewing te laat doodmaak, vertel Matteus 2 ons.
Toe Jesus is, het HOOP weer nuut geword! Die Gesalfde van God waarna God se volk uitgesien het, en al oor begin onseker raak, het sekerheid geword. Nie net vir God se volk nie, maar juis ook vir God se nuwe volk – almal wat in Jesus glo en Hom volg.
Vandag wil ek die woord “HOOP” gebruik. Dit beteken vir my die volgende:
H=HERINTERPRETEER
O=OPSIES
O=ONTDEK
P=PRIORITEITE
HERINTERPRETEER: Om iets te herinterpreteer, is om dit vanuit ‘n nuwe hoek of in ‘n nuwe lig te beskou.
Hoop leef vanuit nuwe interpretasies. Jy kyk na dieselfde werklikheid as voorheen, maar jy sit dit in ‘n nuwe raam om dit anders te verstaan en dit bring weer nuwe moontlikhede en dus nuwe hoop.
Jesus sê vir sy dissipels dat Hy die ware wingerdstok is en dat hulle in Hom moet bly. ‘n Gewone wingerdstok kry nou nuwe betekenis, naamlik dat dit simbool raak vir die verhouding tussen Jesus en ons. Vanuit hierdie nuwe betekenis gee Hy nou vir hulle en vir ons hoop, want kyk wat staan verder in Johannes 15:7-8:“As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”
Om die toekoms beter te hanteer, moet ons dit vanuit Jesus se woorde bekyk, en dit gee Hemelse Hoop. Hierdie is ‘n moeilike tyd.
Maar:
Wat as dit die geleentheid is dat ons werklik moet leer glo dat as ons in Jesus bly, dan kan ons vra wat nou en in die toekoms benodig word, en dit kan gebeur?
Hoe gaan die wêreld verander en verbeter juis nou dat ons kans kry om God te verheerlik deur die vrug van God te dra, en as Jesus se dissipels nog meer dissipels maak? Wat as hierdie die unieke kans is om nie te onttrek uit die wêreld nie, maar ‘n selfsugtige en vreesagtige en boosaardige wêreld kan verander om God te verheerlik?
Jesus het die hele wêreld se sienings radikaal verander deur dit te herinterpreteer. Byvoorbeeld geregtigheid: Onthou: in sy tyd was dit ‘n juridiese stelsel van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Toe sê Hy: julle moet mekaar vergewe. Selfs 70 x7 kere. Hy leer dat ons dit selfs moet bid in die “Onse Vader”, die modelgebed: Vergeef ons ons skulde soos ons ons skuldenaars vergewe. Skielik lyk geregtigheid anders, soos God dit wil hê.
Beteken dit dat ons misdadigers moet laat vry kom? Nee, maar dit beteken dat ons nie met vergelding werk nie, maar met die oog op moontlike vergifnis en versoening. Dan beteken dit dat ons tot in die diepste kern van ons samelewing kyk en vra: hoe bou ons ‘n samelewing en sisteem waarin ons met versoening tot nuwe dinge in staat is.
Ons sal alles moet bly herinterpreteer totdat dit God verheerlik. Omdat ons Jesus se dissipels is. So word óns HOOP!
OPSIES: Onlangs gesels ek met ‘n paartjie en een van die vrae wat ek vra om hulle te help om mekaar beter te verstaan, is: “Wat beteken geld vir jou?” Deur die jare het ek al die mooiste antwoorde gekry. Soos dat dit sekuriteit beteken. Of vryheid. In hierdie geval dink die vrou so ‘n oomblik na en sê: “Opsies!” Geld gee vir haar opsies.
Dis hoekom geld ook kan help om HOOP te bring. Maar dieper as geld wat hoop bring, is die hoop wat hoop self bring. Ons het gesê Jesus bring hoop en Hy is die hoop vir die wêreld. Wanneer jou geld opraak, het jy vir Jesus oor wat nooit as’t ware sal opraak nie.
Vertroue in Jesus gee vir ons hoop en hierdie hoop help ons om opsies te hê.
Toe Jesus in Bethlehem gebore is, het daar volgens Matteus sterrekykers gekom om aan Hom hulde te bring. Wat my fassineer, is dat God vir hierdie mense rigtingaanwysings gegee het na waar Jesus is. God beïnvloed ‘n ster om te verskyn en te beweeg tot waar hulle moet gaan!
Ons moenie vir God onderskat nie. Dieselfde God wat vir die sterrekykers rigting gegee het, is die God wat ons sal help om Jesus te vind as ons Hom soek. En by Jesus kry jy wat Hyself belowe, naamlik ‘n lewe van oorvloed.
Anders gestel: By Jesus hoor en sien jy opsies. En opsies bring nuwe hoop!
Hang dus daardie ster op tydens die Kerstyd, sodat jy kan onthou Jesus is gebore sodat jy hoop en dus opsies kan hê.
Ontdek: Wanneer jy geblokkeer voel, kan ‘n mens hoop verloor.
Ontsluit hierdie tyd met die vraag: Wat het ek in hierdie tyd ontdek? Wat ontdek ek vandag? Wat sien ek as’t ware met nuwe oë soos vir die eerste keer en watter moontlikhede bring dit na vore? Dit beteken ons verbeter nie net wat was nie, maar ontdek met verbeelding wat dit kan word. Ons het nou die kans om dinge anders te doen, en soos die mense wat destyds uit Europa met hulle seilbote weggetrek het sonder ‘n finale kaart – en onthou hulle was nog bang die aarde is plat so hulle kan dalk oor die rand val – het hulle al hoe meer ontdek deur in die toekoms te begin inbeweeg.
Wanneer ‘n mens leef met die houding van die lewe as ‘n ontdekkingstog, dan werk jy met wat Carol Dweck noem ‘n “growth mindset” in plaas van ‘n “fixed mindset”. ‘n Groei lewenshouding help jou ontdek wat reeds is, en wat nuwe moontlikheid kan bring, en dit gee hoop vir wat kan gebeur.
Prioriteite: Die pandemie het ons hopelik met een ding gehelp, en dis om te verreken wat vir ons prioriteit in ons lewe is. Wanneer ons prioriteite deurmekaar raak, verloor ons makliker hoop.
Een prioriteit is om ons tyd goed te gebruik om goeie verhoudings te bou en heling en groei te bring. Waar mense betrokke is om met dit, groei die hoop in hulleself al hoe meer.
Toe Jesus sy werk hier op aarde verduidelik, koppel Hy dit aan die Heilige Gees met die woorde in Lukas 4:18-19: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
As jy in hierdie Jesus glo, salf die Gees jou en stuur Jesus jou om dieselfde te doen. So bring jy nuwe hoop vir ander. En leef jy in hoop.
Dit het alles op aarde begin gebeur toe Jesus gebore is. Mag jy hierdie Kerstyd onthou as die tyd waarin hoop weer nuut kan word en gaan word!
(RSG opname vir Sondagjoernaal – soos min of meer gesels met Lizelle de Bruyn 20 Desember 2020)
Mag dit vir jou en jou geliefdes ‘n geseënde Christustyd wees – Jannie en Wilma
n Stukkie Kerstyd deur die bekende Ndlovo Youth Choir. Kyk hier. Hierdie musiek video vertel die storie van ‘n eensame Gogo wie se hart stukkend is omdat sy dink sy gaan Kersfees alleen wees. Toe sy die bekende klanke hoor van “All I want for Christmas” en by haar venster uitkyk, sien sy haar kleinseun en sy vriende het haar tuin in ‘n wondertoneel verander. Sy is oorweldig omdat sy die beste geskenk gekry het: die herinnering dat dit nie saak maak wat die lewe aan ons doen nie, ons sal nog altyd mekaar hê.
TOERNUUS: 2 Opwindende avonture!!!
Iets wat ons nog altyd in tye van krisis gehelp het, is om vir ‘n hoopvolle toekoms te beplan!
Goeie nuus vir PELGRIMS: As jy belangstel om saam te toer na Israel-Istanbul – 16 OKTOBER 2021, laat weet Wilma hier – noem die toer waarin jy belangstel, asb. Israel is vir ons dié plek waar ons in Jesus se voetspore gaan loop!
Nou vir nog goeie nuus:
Ons toere na Oberammergau Passiespele 2020 was al vroeg volbespreek. Nou is dit uitgestel na 2022 a.g.v. Covid-19. Toe doen ons navraag of ons nog ‘n toer kan aanbied. ONS HET PAS GEHOOR DAT EINDE MEI 2022 nog ‘n OBERAMMERGAU PASSIESPELE TOER kan plaasvind!
Ons wag vir die toerprogram wat Oberammergau Passiespele, Venesië en die Mere-distrik van Italië sal insluit. Kontak Wilma hier en noem dat jy in die Passiespele belangstel.
*Indien jy nog nie ingeteken is nie en graag hierdie INSPIRASIE-nuusbrief wil ontvang, teken hier in. Dit sal goed wees as jy die e-posadres jannie@inspireguroux.com onder jou Contacts sal save, want dan verseker jy dat die nuusbrief nie in die “Junk Email” verdwyn nie.
**As hierdie Inspirasie nuusbrief vir jou iets beteken, nooi gerus iemand om in te skryf! Jy mag dit Share. Forward dit en Cc wilma@inspireguroux.com daarin, dan sit ons hulle by ons poslys.
***Blits-Inspirasie!
Van Maandae tot Vrydae gesels Jannie per kort VIDEO oor ‘n inspirasie gedagte en teks. Dis ongeveer 1½ minuut lank. Jy kan dit op drie maniere gereeld sien: (1) Deur ons Facebook blad te “like” en “follow“. (2) Deur ons YouTube kanaal te “subscribe” (3) Stuur vir Wilma jou naam en selfoon nommer sodat ons dit op die WhatsApp groep kan plaas – om elke aand direk op jou selfoon te ontvang. Onthou om as jy die video’tjie ontvang, haar selnommer onder jou kontaklys te “save” sodat jy gereeld die video’s kan ontvang. En jy mag dit verder aanstuur sodat ons met God se Goeie Nuus meer mense kan inspireer!
****Sondag-Inspirasie!
Elke Sondag word ‘n boodskap beskikbaar gestel as inspirasie vir die week. Subscribe hier op ons Inspire GuROUX YouTube kanaal om dit dan of enige ander dag te kyk en op hoogte te bly wanneer dit verskyn. Jy kan ook vir Wilma hier jou selnommer stuur en noem dis vir die Sondag-Inspirasie, dan ontvang jy die skakel per WhatsApp. Dis ook gratis en ons hoop om meer mense te help met meer vreugde en vryheid, vervulling en vrede!