Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

ONDERSTEUNINGS-NETWERKE IS BELANGRIK!

Ons almal is óf op pad na ’n groot verandering in ons lewe, óf het so pas deur ’n groot verandering gegaan, óf is besig om ’n groot verandering te beleef. In hierdie tye van verandering probeer ons gewoonlik om ons lewe te normaliseer sodat ons veilig en versorg kan voel.

Deel van hierdie veilig en versorg voel om die verandering te hanteer, is om ’n ondersteunings-netwerk te hê. ’n Ondersteunings-netwerk is gewoon om die ondersteuning en hulp van iemand te hê. Hierdie ondersteuning kan familie of vriende wees, bure, medewerkers, jou kerk, selgroep of organisasies. Dit kan emosionele hulp wees of praktiese hulp. Solank jy weet daar is iemand vir jou, kan ’n mens gewoonlik ’n krisis as ’n uitdaging hanteer eerder as ’n katastrofe. Bowendien help dit jou immuniteit sowel as om minder stres te hê.

Gewoonlik word ons geleer dat ons volwasse moet word en dit beteken dan dat jy sake op jou eie moet kan hanteer. Hoe rym dit met ’n ondersteunings-netwerk?

Ons dink volwassenheid is om te groei van afhanklik na onafhanklik. Met onafhanklik bedoel ons dan dat jy niemand anders se hulp nodig sal hê nie. Dis egter nie volledig volwasse nie. Volwassenheid sluit juis die wysheid van verhoudings in. Hier is die geheim. Jy moet groei na inter-afhanklik.

Natuurlik is onafhanklikheid belangrik sodat jy kan leer om dinge self te hanteer en om jouself te bestuur. Maar die belangrikste is om inter-afhanklik te leef. Dis die wysheid dat ek en iemand anders mekaar kan verruim en verryk. Daar is ’n Afrika-spreekwoord wat sê as jy haastig is, moet jy alleen reis. Maar as jy vêr wil reis, moet jy saam met ander reis. Jy bring jou talente en passies saam en ek gee myne en so word ons vermoë om dinge te hanteer soveel meer. Saam kan ons soveel meer vrese en verantwoordelikhede hanteer. Saam kan ons meer drome werklik maak.

Soms voel mense gewoon te trots om te dink dat hulle ’n ondersteunings-netwerk moet hê. Of hulle is te bang dat mense soos parasiete op hulle gaan neersak. Ongelukkig is daar ook die mense wat nie ’n ondersteunings-netwerk soek nie, maar mense wat hulle wil onderhou. Dis nie gesond nie. ’n Gesonde ondersteunings-netwerk is mense wat vertroue in mekaar het om mekaar by te staan sonder om misbruik van mekaar te maak. Dit laat my dink aan die bekende storie van die drie musketiers. Hulle slagspreuk was: een vir almal en almal vir een!

Ek dink deel van die geheim van ’n fenomeen soos Facebook is juis die gevoel dat daar ander mense is wat in jou belangstel en in wie jy kan belangstel. Onlangs is ’n vriend in ’n krisis en dis vir my so wonderlik om te sien hoe mense hulle hulp via sy Facebook bladsy aanbied.

’n Ondersteunings-netwerk is gebaseer op ’n gesonde gee en ontvang. Soms is jy in die posisie om te gee, soos in emosionele ondersteuning of selfs finansiële ondersteuning. Soms is dit met informasie. Dikwels is gewoon net jou daarwees ten tye van iemand anders se nood belangrik. Ander tye het jy weer die ondersteuning nodig en is dit tyd om te ontvang.

Dis vir my opvallend toe Jesus in Lukas 10 die twee-en-sewentig stuur, is hulle nie alleen gestuur nie. Hulle vorm ’n basiese ondersteunings-netwerk van twee-twee. En hulle weet hulle kan op Jesus asook die ander reken.

As iemand vandag voel hy of sy het nie ’n ondersteunings-netwerk nie?

Begin by jouself. Gee jouself toestemming om jouself beskikbaar te stel om ten minste een iemand anders te ondersteun. As jy jouself oopstel vir die Gees, sal jy sien waar kan jy ondersteun. Die maklikste is om deur die sosiale media te begin. Maar doen dit in lewende lywe met iemand anders ook.

Gee ook jouself toestemming dat jy van iemand anders se hulp mag gebruik maak. Vra gewoon vandag iemand anders se raad of informasie oor iets waaroor jy lankal gewonder het.

Onthou: God wil jou ook gebruik om een van sy kinders te ondersteun.

(Soos min of meer op RSG Sondagjoernaal 6 November 2016)

Kopiereg Dr Jannie le Roux. Stuur gerus aan na jou vriende!