Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Waag dit nou net!

Moet ek, óf moet ek nie?

‘n Mens kan darem maklik huiwer om te doen wat jy weet jy moet doen.

Aan die een kant is dit dieselfde gevoel as jy iemand ’n poets wil bak en hy of sy sê: Waag dit nou net!” Jy huiwer ’n oomblik – want dalk gaan die negatiewe gevolge groter wees as die pret. Dan stel jy uit, want jy is bang vir teleurstelling of mislukking of verleentheid.

Of jy waag dit!

Dan wen die gedagte aan die genot wat jy gaan kry of gee. Jy doen dit ongeag die moontlike negatiewe gevolge. Jy glo die positiewe effek gaan meer wees as enige hindernisse.

Daar is baie redes hoekom ons talm en die meeste is legitiem:

* ek voel nie voorbereid genoeg nie

* ek ken nie genoeg mense wat my sal steun nie

* ek het nie genoeg geld nie

* ek het nie genoeg tyd nie

* ek het nie genoeg kennis nie

* ek is nie lus vir negatiewe kommentaar nie

Eintlik is die hoofrede: dis nog nie jou móét nie. Voordat jy nie ’n dringend genoeg rede het nie, gaan jy nie voluit daarvoor gaan nie.

Wat is die hoofrede hoekom ek dit wil doen?

Dalk is dit om meer vryheid te kry, meer kreatief te wees, meer geleenthede te ervaar, meer inspirasie te deel, jouself te help groei, te leer. Dis nie ’n “sommer net” rede nie, maar dit kan seker dit ook wees. Selfs “sommer net” het ’n dieper ervaring wat jy wil beleef.

Wat is jou werklike rede?

As jy jou werklike rede het, gaan jy die energie hê om te waag. Die werklike rede is eintlik wat jy glo. En Jesus sê: “Julle moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees” (Markus 11:22-24 NAV).

Wel, dalk het die tyd ryp genoeg geword dat jy dit nou móét doen. Jy mik al lankal in daardie rigting.  Moenie wag tot volgende week nie, maar doen vandag reeds iets in daardie rigting.

Hoor nou die positiewe uitkoms hierin: Waag dit nou net!

(Wonderwerk? In dieselfde tyd waarin ek hierdie stuk vir Wilma stuur om te proeflees, stuur sy vir my hierdie skakel wat oor dieselfde saak gaan! Kyk gerus hier na: The Mahomet Seymour dance team gave everyone a surprise when they decided not to dance to music. Instead, they danced to the track, “What Are You Afraid Of?” by Jon Jorgenson.)