Onseker-SEKER!
Almal is al moeg vir moets en moenies.
Kom ons gebruik ‘n beeld om vandag se praatjie te verduidelik (verkorte weergawe van gesprek op RSG).
Ek het al baie gewonder hoe werk dit dat ‘n seiljag ook wind-op kan vaar. Veral as ons Simonstad se kant toe gaan, is dit mooi om die seiljagte so te sien werk.
Die wind-af kan ek verstaan, want dan stoot die wind jou as’t ware.
Toe lees ek oor die beginsel van “tacking”, om die seiljag oor ‘n ander boeg te gooi of in ‘n ander rigting te stuur. In Afrikaans dink ek is die woord “laveer”.
Dis wanneer die seiljag skuins wind-op kan vaar en dit swaai gewoonlik van die een kant na die ander, bakboord na stuurboord of stuurboord na bakboord. Hulle gebruik nog steeds die wind om die stootkrag te kry teen die seile. Hulle vaar nie reguit teen die wind in nie, maar skuins.
Hier is die geheim: die diep kiel van die seilboot. Dit wat onderwater is.
Die kiel veroorsaak dat die boot nie omslaan nie en ook weerstand bied om dwars beweeg te word. Die wind druk dus teen die seil en die geheel druk teen die kiel en dus hoe die boot skuinsweg vorentoe gaan. Sig-sag die heeltyd in die rigting van die bestemming.
Ons is nou nogal in wind-op omstandighede. Dit beteken daar is nie ‘n reguit paadjie na sukses en vervulling nie. Die kuns is nou om juis hierdie tyd en omstandighede te gebruik om wind-op, al is dit sig-sag, te vaar. Natuurlik gaan sproei jou natmaak.
Prakties: Kom ons sig-sag met ons seiljag as hulpmiddel.
- WEET WAAR JY JOU NOU BEVIND EN KYK WAAROOR HET JY INVLOED
Dee Hock, stigter van die Visa kredietkaart-organisasie, en een van die innoverende wêreldleiers, het gesê leierskap is om die huidige werklikheid effektief te beskryf. “Define current reality.”
Die wêreld is in verskillende fases van lockdown en ook in verskillende fases van ekonomiese motivering. Daar is globale rolspelers wat ‘n effek op elke land se ekonomie en daarom op elke plaaslike gesin se finansies en oorlewing ook het. Dit gaan ons bly raak. Maar ons het nie persoonlike beheer of invloed daarop nie. Daar moet die samelewingsleiers ons help. So dit help nie ons mors ons energie deur hierop te fokus nie.
Plaaslik weet ons dat die grendeltyd die armoede situasie in ons land net nog meer onder die vergrootglas gebring het. Dit het ook die geweldsmisdade in ons land verhoog en daarmee saam ook die mishandeling van veral vrouens en kinders. Die sogenaamde nuwe normaal het ‘n groot effek om die ou abnormale wat met beskawing gepaard gaan weer na vore te bring. Dit veroorsaak dat mense die heeltyd in ‘n veg-en-lug en selfs vries situasie verkeer.
Het ons invloed hieroor?
Nee, en ja.
Eers die nee: Die realiteit is dat ons nie weet wat in elke familie regtig afspeel nie.
Nou die ja: Deur die vriendskapbronne in die gemeenskap te mobiliseer, help almal mekaar. Jyself moet ook nie stilbly as jy nood het nie, maar hulp soek. Kollegas moet fyn luister na mekaar.
Ons mense ly nie nou net aan post-traumatiese stres nie – ek reken dit kom nog. Almal verkeer nog in hierdie trauma en ly aan aktiewe stres en angstigheid.
Net die feit dat jy nie so ver vooruit kan beplan nie. Ons was gewoond om met sogenaamde 5 jaar planne te werk en nou is dit die 5de jaar van ons vorige plan en kyk hoe lyk ons wêreld!
Die punt is om te kyk waaroor kan jy wel ‘n invloed en impak hê.
Skryf net vir jouself eerlik op ‘n papier of rekenaar: Waar bevind ek myself nou? En waaroor het ek wel ‘n invloed.
Die seiljagvaarders moes daardie tyd ontdek as hulle wil vorentoe, moet hulle erken dat hulle hulle nou in ‘n wind van voor bevind en maniere uitwerk hoe om daardie selfde wind te gebruik om vorentoe te gaan. Dis waaroor hulle invloed en impak op die wêreld gehad het en dit nou nog het.
Dis om in hulle situasie van onseker – onthou die wind waai nou van voor – van iets seker te word!
- VORM ‘n DINAMIESE VISIE VAN MENSWEES
Hier bedoel ek dat jy moet weet wat jy wil bereik en waarom jy dit wil bereik.
Ons is EERS MENSE. Nie eers besighede of bates of kultuurgroepe of wat ook al nie.
Dink mense eerste. Só help vorm jy ‘n mens!
Wanneer ‘n mens met mense soos objekte werk, verdwyn liefde en verskyn geweld.
Jy kan baie informasie vir iemand gee, maar jou eerste vertrekpunt moet wees: hoe help ek hierdie mens om ‘n liefdevolle medemens te wees. Hoe kan hierdie kind of student my ewe-mens wees?
In die wêreld van suksesdenke het mense altyd probeer werk met die formule: do-have-be. Doen – dan sal jy hê – en dan sal jy gelukkig of suksesvol of wat ook al wees. Maar dit het nie gelukkiger mense opgelewer nie. Of die formule have-do-be. Ek moet eers dit hê, soos genoeg geld hê, dan sal ek dit of dat doen, en dan sal ek gelukkig wees. Navorsing wys dis eerder die gelukkige mense wat gouer suksesvol is.
‘n Samelewing wat floreer, word gevorm deur liefdevolle mense.
Dit verander die formule na: be-do-have. Wees – doen – hê.
Ons help mense met wie hulle kan wees, en om dan nou so te leef, sodat ons ‘n beter en veiliger wêreld asook geleenthede vir almal kan hê.
So stel ‘n dinamiese visie dat jy heel mense hier gaan laat deurkom. Waarvan jyself een gaan wees. Dan kan jy daarrondom nog ander doelwitte stel. En die gedrag wat daarmee gepaard gaan kan aanleer, sodat ons ‘n beter en veiliger wêreld kan hê.
Só span die seile in die rigting van ‘n dinamiese visie.
- LEEF MET ‘n KERNGELOOF WAT JOU REGOP HOU
Dis nou die Engelse “beliefs”. Baie keer het ons ‘n kerngeloof wat ons nie nou help nie.
As jou kerngeloof is dat alles moet terugkeer na hoe dit was, want dit was beter, gaan dit nie nou help nie. Nie in ‘n stormsee met die wind van voor nie.
Jy sal onthou uit die beeld van die seiljag dat die kiel, daardie deel wat onder die seiljag is en keer dat dit nie omwaai of van koers waai nie, geweldig belangrik is. Jy sien dit nie regtig nie, want dis onder die water. Maar dit bepaal so baie.
Ook in ons menswees. Dit wat jy glo, bepaal of jy gaan omslaan of van koers gaan.
Vra jouself: is my kerngeloof toepaslik vir nou?
Hoe sal dit wees as jou kerngeloof is: Daar is altyd ‘n uitweg!
Gelowiges kan nog bysit saam met wie of in wie se Naam hulle hulle vertroue stel.
Daarom kon Koning Dawid destyds uitroep: “Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (Psalm 18:30).
Daar is altyd ‘n uitweg.
Weet jy, hierdie kerngeloof, en net deur dit hardop te sê, help jou om na moontlikhede te kyk. Dit vorm jou vaste kiel wat keer dat jy nie net omdop van moedeloosheid nie. Dit gee op ‘n manier die weerstand teen verwoesting. Dis wat jou laat vorentoe beweeg in moeilike stormwinde.
Daar is altyd ‘n uitweg, gee die besef dat ons hier besig is met ‘n grootskaalse eksperiment oor hoe ons die toekoms binnegaan. Niemand het gedink dat ons feitlik oornag almal op video’s gaan verskyn nie. Almal het gedink dis iets van die toekoms. Niemand het gedink dat almal oornag by die huis moet bly nie. Maar toe is besef die toekoms is nou hier. En wat gaan ons doen om dit goed te hanteer. Net om te wonder hoe om dit goed te hanteer, werk reeds met die kerngeloof: Daar is altyd ‘n uitweg!
Ons het nie nou altyd die oplossing nie, maar kom ons vra baie en beter vrae, want daar is altyd ‘n uitweg.
Covid-19 gaan uiteindelik help uitwys watter uitweg gaan vir ‘n nog beter en veiliger toekoms sorg.
Dus: leef met ‘n kerngeloof wat jou regop hou!
- VOLG DIE SIG-SAG VAN EKSPERIMENTERING
Hierdie tyd het ons geleer dat mense nie regtig in beheer van alles is nie, veral nie van hulle toekoms nie. Ons is blootgestel in die heelal van komete, sterre, planete en nog baie ander goed. Ons is blootgestel aan skielike verandering.
Maar ons moet nie leef vanuit die feit van blootstelling nie, maar vanuit INSTELLING.
As ons werk met die geloofskern van daar is altyd ‘n uitweg, moet ons begin met die sig-sag van eksperimentering.
Eksperimentering is nie om reguit van punt A na punt B te beweeg nie. Jy volg eers ‘n rigting byvoorbeeld na regs en dan besef jy maar jy moet nou ‘n rigting na links volg. Dis om vorentoe te gaan teen die wind in.
Kyk die moeilikheid in die oë en bly leerbaar. Die hart van eksperimentering is om leerbaar te bly.
As iets nie werk nie, kies ‘n ander koers wat jou nog steeds vorentoe neem en kyk of dit beter gaan werk.
Om jou droom te bereik, hoef nie in ‘n reguit rigting of in ‘n reguit lyn te gebeur nie.
Dis in elk geval nie hoe die lewe werk nie. Dis net in teksboeke so.
Eksperimenteer!
Die volgende vraag van Johan van Lill het onverwags gekom:
Johan: Jannie as jy hierdie dinge sê dan dink mense: sjoe, alles gaan darem net reg vir Jannie le Roux! Maar die pandemie het selfs jou lewe ook onderstebo gedraai en ‘n groot effek gehad en jy moes ook groot besluite neem en dis altyd interessant om te hoor hoe iemand wat hierdie regte kennis het, dan ook hierdie groot besluite moet neem en skielik het die windrigting vir jou ook verander.
Jannie: In ons geloofsgemeenskap moes ‘n mens keuses maak. Ek het gesien toe die lockdown begin, die finansies neem af. Onthou: mense se familielede verloor inkomste. So, jy help eerder familie as wat jy dalk ‘n geloofsgemeenskap wat nou afgesonder is en waar mense mekaar nie almal in die oë kan kyk en mekaar op daardie manier liefde kan gee nie – en dit het dit ‘n impak gehad! Dan moet ‘n mens aan die groter prentjie dink. Dis wat ek gedoen het. Ek gaan met jou eerlik wees, dit was nie sonder ‘n kol op my maag nie, want ek het hier ‘n brander sien kom. Maar my vraag was: Hoe help ek ‘n sisteem wat al die jare gebou is, sodat daardie sisteem verder kan ontwikkel en verder kan bly groei? M.a.w. daardie dinamiese visie wat ter sprake is.
Tweedens het ek besef: die toekoms is nou hier! Dit wat ons almal gesê het eers oor 5 of 10 jaar gaan gebeur, is nou hier. In daardie geval is daar met my onderhandel oor wat “retrenchment” of aflegging genoem word, omdat ek 2 jaar vanaf formele aftrede is. So in ‘n sekere sin het al daardie goed nader aan ‘n mens se lyf gekom. Dan moet ‘n mens begin sê: “OK.” Jy hou jou asem by tye op. Ander tye leer jy. Hoe sê iemand vir my: “Jannie, jy het nog die heeltyd op water geloop. Daar was net ‘n hawemuur onder jou voete. Nou is daardie hawemuur weg. Nou loop jy regtig op water.” Dis goed soos hierdie gesprekke, dis goed soos die videotjie wat ek elke aand uitstuur, dis goed wat my dinamies aan die gang hou, maar wat ook dalk toekomsgeleenthede kan ontsluit waar ‘n mens dalk kan inkomste genereer en dies meer. Dis alles opsies wat ‘n mens het.
Jou lyf gaan deur die goed, jou siel gaan deur die goed, jou gees gaan deur die goed. Ek dink die punt van die saak is: jy gaan skuins in een rigting, skuins in ‘n ander rigting, maar jy is die heeltyd besig met groei en eksperimenteer. Wat vir my gehelp het, was om saam met die Kerkraad ‘n besluit te neem toe hulle met my onderhandel het en besef: Dis waar ons nou is. Dis die beste vir nou. Daarom: besluite bring helderheid.
As jy vashaak op iets waar jy nou is – daar is ‘n tyd waarin jy half in ‘n doldrum gebied is waar jy nie weet waar jy nou is nie. Maar : hang net aan. Op ‘n stadium kom daar ‘n windjie op. Al is die windjie van voor.
Dan begin jy weer seil…!
– Vir die volledige praatjie: Ons en die onderwys 6 September 2020
Kyk hier hoe Dr Sean sy lewe voluit geleef het – ten spyte van sy fisiese beperkings! (Nota: al is hy einde 2019 oorlede, bly sy lewe impak hê)
TOERNUUS: 3 Opwindende moontlikhede!!!
Na al die regulasies van die grendeltyd is dit tyd om te kyk na die toekoms. Ons het juis 2 geleenthede vir 2021 beplan sodat hierdie grendeltyd verby kan wees. ‘n Mens leef van hoop!
Baie dankie vir almal wat reeds reageer het – dis lekker om van julle te hoor. En baie dankie vir julle wat reeds ingeskryf het!
Dis ‘n DROOMVAKANSIE met ‘n PLUS!
3 nagte aan boord die MSC Musica… 3 verrykende temas…
Hoe sal jy daarvan hou om luukse genot op ‘n skip, plus ‘n daglange eilandervaring te beleef?
Die temas: 90 minute elk (net een per dag, daarna is jou tyd jou eie)
- Reset: Calm in chaos
- Refresh: Rising strong
- Rejoice: Whole-hearted living
Onthou jy hoeveel kere die dissipels wonderlike ervarings van Jesus se Teenwoordigheid op of by water gehad het? Ons gaan saam vaar vanaf Durban na die Portugese Eiland…
Kontak Wilma dadelik hier sodat ons weet of jy belangstel – noem die toer: Pelgrims Skeepsvaart. Ons het net enkele kajuite!
Nog goeie nuus vir PELGRIMS: As jy belangstel om saam te toer na Israel-Istanbul – 16 OKTOBER 2021, laat weet Wilma hier – noem die toer waarin jy belangstel, asb. Israel is vir ons dié plek waar ons in Jesus se voetspore gaan loop!
Nou vir die 3de stukkie goeie nuus:
Ons toere na Oberammergau Passiespele 2020 was al vroeg volbespreek. Nou is dit uitgestel na 2022 a.g.v. Covid-19.
Ons Oberammergau Passiespele toere vir 2022 is alweer vol. Goeie nuus, ons beplan aan nog ene! Kontak Wilma hier en noem dat jy in die Passiespele belangstel.
*Hierdie is die Inspirasie nuusbrief vanaf www.inspireguroux.com die NUWE BLOG! (Hierdie blog vervang die vorige www.jannieleroux.co.za). Indien jy nog nie ingeteken is nie en graag hierdie INSPIRASIE-nuusbrief wil ontvang, teken hier in. Dit sal goed wees as jy die e-posadres jannie@inspireguroux.com onder jou Contacts sal save, want dan verseker jy dat die nuusbrief nie in die Trash of Spambucket verdwyn nie.
**As hierdie Inspirasie nuusbrief vir jou iets beteken, nooi gerus iemand om in te skryf! Jy mag dit Share. Forward dit en Cc wilma@inspireguroux.com daarin, dan sit ons hulle by ons poslys.
***Blits-Inspirasie! Van Maandae tot Vrydae gesels Jannie per VIDEO oor ‘n inspirasie gedagte en teks. Dis ongeveer 1½ minuut lank. Jy kan dit op drie maniere gereeld sien: (1) Deur ons Facebook blad te “like” en “follow“. (2) Deur ons YouTube kanaal te “subscribe” (3) Stuur vir Wilma jou naam en selfoon nommer sodat ons dit op die WhatsApp groep kan plaas – om elke aand direk op jou selfoon te ontvang. Onthou om as jy die video’tjie ontvang, haar selnommer onder jou kontaklys te “save” sodat jy gereeld die video’s kan ontvang. En jy mag dit verder aanstuur!