Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

TOE TREF HULLE MY…

Ek hoor ‘n motorenjin met hoë revolusies aankom. Iemand jaag. Ek is net besig om weg te trek by die robot waarvan die lig oorgeslaan het na groen vir my. Ook die pyltjie wat wys dat ek regs kan draai.

Die volgende oomblik blits ‘n motor teen hoë spoed voor my verby. Ek trap rem. Het ek dan ‘n fout gemaak? Ek kyk weer na die robot. Nee, dis regtig groen vir my! ‘n Breukdeel van ‘n sekonde later tref die volgende voertuig my VW Polo voor regs. Die slag van die ongeluk is harder as die hoë enjingeluid. Ek sien ‘n wit bakkie wegswaai na die plantewinkel oorkant die pad en wonder of dit nou in hulle mooi tuine gaan land. Maar dan tref dit my: ek is nog hier in die middel van die pad en ek hoor nog voertuie aangejaag kom. Nevermind my motor se enjin, besluit ek en ry oor na regs om aan die anderkant teen die sypaadjie te parkeer. Dink nie ek gaan Mugg & Bean nou met hierdie kar haal nie. Ek klim uit om te kyk wat aangaan.

Dis nou.

Maar dit het eintlik seker die vorige aand al begin.

“Ek is nou moeg vir alles wat te make het met dood,” sê Wilma ferm en tegelykertyd hartseer.

So pas het ek haar vertel dat memento mori, die Latynse uitdrukking vir “onthou jou dood” of “onthou dat jy (moet) sterf” nogal ‘n belangrike fokus op die lewe kan wees. Hoewel die vlamme van ons vuurtjie lekker vrolik en koesterend die vertrek verlig, is dit nie nou die regte tyd vir my storie nie.

Ons moes ‘n week gelede die veearts laat kom om ons groot Malamut-hond te verlos van sy aardse seer. Wilma het nogal maande spandeer om sy lewe gemaklik en waardig te hou. Net daarna is een van haar beste skoolvriende se man in ‘n motorongeluk oorlede – nadat ons nogal die vorige aand gesels het om by hulle te gaan kuier. My vrou het seer. Ons het enkele maande vir haar pa ook totsiens moes sê.

Ek vertel ook dat oorlede Steve Jobs in sy bekende 2005-Stanford-praatjie gesê het dat om te onthou dat jy binnekort dood sal wees, na sy mening die beste manier is om hom te help om die groot keuses in die lewe te maak. Omtrent alles, selfs die vrees vir vernedering en mislukking, raak nietig in die aangesig van die dood. Die dood help jou onthou jy het niks meer om te verloor nie. Dis nou in my woorde. Dit help om te besluit wat is werklik belangrik.

“Ek wil dit nie nou hoor nie.”

Hoekom laat God hierdie seer toe? Hoekom ‘n mens en ‘n dier so laat ly? Hoekom Covid-19? Wat moet ons dan nog bely as sondes? Of is God net wraaksugtig? So vra so baie mense.

Daar kom ‘n punt waar teologiese antwoorde nie goed genoeg is nie. Net die troosvolle omhelsing wat die praktiese teoloog sy geliefde kan gee. Daar is ‘n moment waar al die opleiding in sielkunde moet tweede wees en jou hart eerste is. Ek gee haar ‘n drukkie en wil haar net bly vashou en beskerm teen al die seer wat was of mag voorlê.

Terug na die nou.

Polisie- en sekuriteitsvoertuie jaag met hoë spoed verby. Iemand stop by my en vra of ek oraait is. “Ek voel so, ja,” sê ek. Hy verduidelik dat hy gesien het hoe hulle wegjaag vanaf die Somerset Mall. ‘n Ander persoon stop en vertel dat dit ‘n inbraak was by een van die juwelierswinkels en dat die voorste motors die “getaway cars” was. Een van hulle het my motor getref.

Ek skakel my vriend wat ek in Mugg & Bean sou ontmoet en vra of hy my kan kom haal. Toe bel ek my paneelklopper-vriend en vra wie die insleepdiens is wat ons nou weer gebruik. Ons het die afgelope twee jaar deurgeloop onder motorongelukke – en regtig, nie een was ons skuld nie! Soveel so dat een van ons vriende wat vir ‘n versekeringsmaatskappy werk met ‘n laggie gesê het: “Julle weet seker julle hóéf nie elke jaar ‘n ongeluk te maak nie!” Die insleepvoertuig wat uit die niet agter my motor kom parkeer, is toe juis van ‘ons’ maatskappy. Dit bly vir my wonderlik hoe hierdie mense so vinnig by ‘n ongelukstoneel kan opdaag. Dis gerusstellend ook, soos toe ek oorsee was en hulle my vrou baie vriendelik gehelp het na ‘n voertuig in haar motor vasgejaag het.

My vriend daag op terwyl ek die insleepdiens se vorm teken. “Jou hand bewe bietjie,” lag die insleepvoertuig se bestuurder vir my.

“Ek is eintlik OK. Dis net die afloop van die adrenalien,” lag ek terug agter my masker. “Ek wonder wie nou die bybetaling gaan doen as hulle gevang word. Tensy een van hulle ‘n diamantjie oorhou.” Nou lag ons almal vir my humor.

Toe ek en my vriend wegstap om te ry, roep die insleepdiens-man nogal ewe agter ons aan met ‘n lekker lag: “Veilig ry!”

Ons gaan drink koffie terwyl my dogter vir ons ‘n WhatsApp boodskap stuur dat sy hoop ons is nie by die Mall nie, want daar is ‘n inbraak. Ek besluit om niks te antwoord nie, want Wilma is nog op Stellenbosch en ek wil hê sy moet rustig terugry.

Na ‘n koffie of twee bel ek haar om my te kom haal. “Is jy OK? Wat nóg?” is haar geskokte antwoord toe sy hoor wat gebeur het.

Om my gaan die lewe aan soos gewoon. Ons hoor later van die rowers is na ‘n jaagtog en oor-en-weer geskietery gekry. Ek is bly hulle het nie al begin skiet toe hulle by my verby is nie.

Toe haal die insident die nuus met die opskrif “Rowers jaag in dominee se motor vas.” Eers op Netwerk24 se webblad en die volgende dag in Die Burger.

“Ek het nie besef dis so ernstig nie! So bly Dad is OK,” laat weet een van ons kinders. En ‘n ander: “Dad is famous!” Ek laat weet tong-in-die-kies terug hulle besef nie hoe lank dit my geneem het om by Mugg & Bean in te kom tussen al die fotograwe en handtekening-soekers deur nie!

Op die video-opname van die ongelukstoneel kon ek sien hoe vinnig daardie voertuie op my afgejaag het. Ek is regtig ‘n ontsettend gelukkige man om heelhuids uit die ongeluk te kom. My vriend wat saam na die videomateriaal gekyk het, skud net sy kop. “Net ‘n breukdeel van ʼn sekonde na een of ander kant en jy was nie meer hier nie.”

Van oral kom boodskappe wat deel in my dankbaarheid.

Memento mori het meteens dieper betekenis gekry. So na aan die dood. Tog begenadig vir hier en nou. Al die kleure lyk helderder. My lief-mense voel nader en kosbaarder. ‘n Afspraak vir koffie is nie so vanselfsprekend nie. Koffie smaak nog lekkerder…

Tog gaan ek nie soos St. Hieronymus maak nie. ʼn Standbeeld van hom met sy voet by ‘n mens se skedel is voor die sogenaamde Kerk van St. Catherine, reg langs die Geboortekerk wat gebou is waar Jesus volgens oorlewering gebore is in Bethlehem, Israel. Hieronymus het hier in ‘n grot vir 30 jaar gewerk om die Bybel van Hebreeus en Grieks na Latyns te vertaal. Die Latynse Bybel het bekend geraak as die sogenaamde Vulgaat.

En die skedel? Tradisie wil dit hê dat hy altyd ‘n mens se skedel by sy werkplek gehou het om hom te herinner hoe kort die lewe is, en om hom te motiveer om aan te hou werk.

Dit lyk vir my te grillerig om dít te doen. Tog het ek dit nou onthou na die motorongeluk. Die lewe ís kort en noudat die Here my gespaar het, is daar nog ‘n paar goed om te doen!

Een daarvan is om juis hulde te bring aan God. Die teks wat my bybly, veral nou, is uit die gebed van Paulus in Efesiërs 3:20 en verder:

“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe…”

Die dood sit nogal die lewe in perspektief. Myne in elk geval.

Memento mori – onthou: jy moet doodgaan…


Kyk HIERsommer net geniet vanuit my memento mori.


TOERNUUS: 3 Opwindende moontlikhede!!!

Na al die regulasies van die grendeltyd is dit tyd om te kyk na die toekoms. Ons het juis 2 geleenthede vir 2021 beplan sodat hierdie grendeltyd verby kan wees. ‘n Mens leef van hoop!

Baie dankie vir almal wat reeds reageer het – dis lekker om van julle te hoor. En baie dankie vir julle wat reeds ingeskryf het!

Dis ‘n DROOMVAKANSIE met ‘n PLUS!

3 nagte aan boord die MSC Musica… 3 verrykende temas

Hoe sal jy daarvan hou om vryheid en absolute rykmensgenot op ‘n skip, plus ‘n daglange eilandervaring te beleef?

Die temas: 90 minute elk (net een per dag, daarna is jou tyd jou eie)

  1. Reset: Calm in chaos
  2. Refresh: Rising strong
  3. Rejoice: Whole-hearted living

Onthou jy hoeveel kere die dissipels wonderlike ervarings van Jesus se Teenwoordigheid op of by water gehad het? Ons gaan saam vaar vanaf Durban na die Portugese Eiland…

Kontak Wilma dadelik hier sodat ons weet of jy belangstel – noem die toer: Pelgrims Skeepsvaart. Ons het net enkele  kajuite!

Nog goeie nuus vir PELGRIMS: As jy belangstel om saam te toer na Israel-Istanbul – 16 OKTOBER 2021, laat weet Wilma hier – noem die toer waarin jy belangstel, asb. Israel is vir ons dié plek waar ons in Jesus se voetspore gaan loop!

Nou vir die 3de stukkie goeie nuus:

Ons toere na Oberammergau Passiespele 2020 was al vroeg volbespreek. Nou is dit uitgestel na 2022 a.g.v. Covid-19.

Ons Oberammergau Passiespele toere vir 2022 is alweer vol. Goeie nuus, ons beplan aan nog ene! Kontak Wilma hier en noem dat jy in die Passiespele belangstel.


*Hierdie is die Inspirasie nuusbrief vanaf www.inspireguroux.com die NUWE BLOG (Hierdie blog vervang die vorige www.jannieleroux.co.za). Indien jy nog nie ingeteken is nie en graag weekliks hierdie INSPIRASIE-nuusbrief wil ontvang, teken hier in. Dit sal goed wees as jy die e-posadres jannie@inspireguroux.com onder jou Contacts sal save, want dan verseker jy dat die nuusbrief nie in die Trash of Spambucket verdwyn nie.

**As hierdie Inspirasie nuusbrief vir jou iets beteken, nooi gerus iemand om in te skryf!  Jy mag dit Share. Forward dit en Cc wilma@inspireguroux.com daarin, dan sit ons hulle by ons poslys.

***Blits-Inspirasie! Van Maandae tot Vrydae gesels Jannie per VIDEO oor ‘n inspirasie gedagte en teks. Dis ongeveer 1½ minuut lank. Jy kan dit op drie maniere gereeld sien: (1) Deur ons Facebook blad te “like” en “follow“. (2) Deur ons YouTube kanaal te “subscribe (3) Stuur vir Wilma jou naam en selfoon nommer sodat ons dit op die WhatsApp groep kan plaas – om elke aand direk op jou selfoon te ontvang. Onthou om as jy die video’tjie ontvang, haar selnommer onder jou kontaklys te “save” sodat jy gereeld die video’s kan ontvang. En jy mag dit verder aanstuur!