Spasie vir ‘n WONDER?
’n Swerm kindertjies babbel en beduie opgewonde terwyl hulle wag dat die verkeer by die voetoorgang stop. Uit die taxibus borrel nog ’n paar. Ek stop en wys hulle kan oorbeweeg na die seekant van Kusweg in die Strand.
Soos ’n rivier in vloed storm hulle oor, stemmetjies in verskillende toonhoogtes. Die opgewondenheid om sand, see en son te beleef, is aansteeklik.
Wanneer laas het jy met soveel oorgawe soveel aansteeklike antisipasie en pret beleef?
My binnestem antwoord: “Jy het al weer te besig geword…”
“Maar dis einde van die jaar en ’n klomp goed moet klaar,” redeneer ek.
“Jy skep nie genoeg spasie vir ’n wonder nie. Bou net vandag spasie in vir ’n wonder!” hoor ek.
As ek dink hoe die kindertjies hulle verwonder aan die see en hoeveel vreugde hulle het, moet ek beslis ook. Net daar besluit ek om dadelik die spasie vir verwondering te skep.
* Die spasie vir verwondering
Verwondering is om met jou volle aandag in die oomblik en op jou omgewing te fokus. Om jou aandag te hou by die hier en nou, waar jy is en waarmee jy besig is. Om die gewone te bekyk asof dit buitengewoon is. Om oorweldig te voel deur skoonheid of grootheid. Om die verrassende in die alledaagse te waardeer. Om die mooie te sien, liefde aan te raak, die lekkerte te ruik, genot te proe, harmonie te hoor.
Toe Jesus vir sy dissipels sê hulle moenie die kindertjies van Hom weghou nie, herinner Hy hulle in Lukas 18:17: “Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
Omdat God Drie-enig alles geskep het, beleef ek iets van my konneksie met Jesus deur kaalvoet in nat seesand te loop, die geur van seesproei te geniet, die geruis van branders toe te laat om my kalm te maak. So ontvang ek die koninkryk van God kinderlik verwonderend. In die spasie van die nóú. In die teologie van my sintuie.
Om jouself te verwonder aan wat mooi of uitnemend is, is nogal een van die sterkpunte wat die vader van positiewe sielkunde, Martin Seligman, aanbeveel om ons te help floreer. Jy hoef nie baie ure opsy te sit om die spasie te skep vir verwondering nie. Dis net ’n besluit om met ’n ander gesindheid te kyk na alles wat nou rondom jou en in jou gebeur. Die gesindheid van “ek wonder of dit God is… ek wonder wat God hierdeur wil sê… wat wil God vir my wys?“
Ek ry verder en kyk asof met nuwe oë na alles. Verwonder my oor die vorm van die geboue, die uniekheid van mense wat langs die straat loop, die groen blare, die wolkies. Die spasie van ’n oomblik in die nóú.
Die volgende oomblik stop ’n vragmotor langs my by die rooi robot. Deur die linkervenster kan ek net die letters sien en vinnig afneem: “A Miracle.” (Foto bo)
Die spasie vir wonder bring wonderwerke!
Wanneer laas het jy…?
(Wonderwerk? Soms bring verwondering ‘n knop in jou keel en ‘n traan in die oog. Hoop hierdie video skep vir jou die spasie vir wonder. Brooke Ellison is die eerste kwadrupleeg wat haar studies aan Harvard Universiteit voltooi het.)