Important: Live inspired!
Somerset West, South Africa

Sê nou dit WERK!

As jy besef dis nou die tyd om ‘n skuif te maak in jou lewe of perspektief, hoe weet jy of jy nou die regte ding doen? (Lees hier oor die ervarings wat jou laat besef dis tyd om te skuif). Dikwels is dit die punt waar ’n mens wonder of dit ooit gaan werk. En dan sommer alles los.

Ek gaan eers net 3 goed noem wat ons in gedagte kan hou (in ’n preek het ek 5 genoem):

Gaan soek na jou opwindendste WOW-moment. Dit het te make met waaroor jy opgewonde en passievol is. Dit is jou diepste waarom. Dis die rede hoekom jy alles wil doen. Dis die gevoel van tevredenheid dat jy besig is met waarmee jy nóú besig moet wees.

Een van die maniere om te toets of jy in die regte rigting beweeg, is om jou lyf se IK-toets te doen. As jy visualiseer in watter rigting jy sou wou gaan, waar jou diepste passie en jou diepste vreugde sal wees, en jou lyf gee vir jou die ervaring jy voel of jy groter word, of jy voel meer oop na buite, is dit waarskynlik die rigting waarheen jy moet gaan. Maar as jou lyf half na binne trek en jy voel dat jy amper nie asem kry nie, en jyself minder raak, is dit nie die rigting waarin jy moet gaan nie.

Dink diep oor jou WAARHEEN. Natuurlik kan dit gebeur dat jy deur omstandighede, soos skielike afdanking by die werk, dadelik aan iets moet begin dink.

Die belangrike is om te begin dink oor watter rigting jy graag sou wou inslaan as alles 100% reg sou verloop. Jou rigting bepaal jou resultaat (destiny).

Skryf verskillende opsies neer, want dit maak jou moontlikheid van keuses net soveel beter.  Neem dan die opsies wat vir jou die ideaalste lyk en formuleer by elkeen ’n slegste-situasie-scenario, asook ’n beste-toekoms-scenario.

Een van die maniere waarop jy gereed kan wees om die tree te neem, is om juis ’n plan te hê vir waarheen jy gaan, maar veral om ’n plan te hê vir wanneer dinge drasties verkeerd loop.

Dikwels hoor ’n mens kritiek oor jou waarheen. Maar tussen al die kritiese stemme deur, is daar nog altyd Jesus wat vir ewig en altyd by ons is. Toe Jaïrus by Jesus kom hulp soek vir sy siek dogtertjie en sy sterf in die tyd wat hy by Jesus is, kom daar mense wat hom afraai om verder met Jesus te praat. Maar dan sê Jesus in Markus 5 vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” Dan gaan genees Jesus die dogtertjie.

Hoor hoe Jesus ons help: Bly maar net glo! Beweeg na die WAARHEEN van jou WOW. Maar neem nog iets in ag:

Bid veral vir WYSHEID. Goeie oordeel is iets van wysheid. Dis op ’n manier om geestelik intelligent te wees. Jakobus nooi ons om vir God wysheid te vra en bevestig dat God dit sal gee.

Een van die vrae om te vra met die keuse wat jy wil maak om die nuwe tree te gee, is: Is dit wys? Anders gestel: Is dit die moeite werd?

Een van die beste maniere om dit te toets, is of dit ’n “Hemel-ja!” gaan wees of ’n “Hel-nee!”. As dit nie ’n “Hemel-ja!” is nie, bly eers waar jy is. Die tyd is nog nie ryp nie.

Wonderwerke van Jesus gebeur ook om te help. Dikwels is die verandering van perspektief die tree wat jy moet neem. Vgl. Paulus in 2 Kor. 12 waarin hy besef dat sy “doring in die vlees” daar gaan bly en dat hy moet leer om daarmee saam te leef vanuit die genade van Jesus. Jesus se genade is genoeg.

Die belangrike is: daar kom ’n tyd om te KIES.

En dan die tree te neem wat jy moet stap.

Ek reken ons moet weer die gebed bid van Reinhold Niebuhr:

“God, gee my die kalmte om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om die dinge te verander wat ek kan, en die wysheid om die verskil te weet.”

Sê nou net dit werk…!

(Luister ook hierna by RSG Sondagjoernaal 19 Augustus 2018)


Wonder: Miskien moet ‘n mens net meer onthou wie jy werklik is, soos hier uitgebeeld in die gewilde animasie-fliek The Lion King